Boshoff bedank: Orania Beweging ‘kies verantwoordbaarheid’

Carel Boshoff IV, president van die Orania Beweging. Foto: Forum Nuus

Carel Boshoff, president van die Orania Beweging, het bedank.

Luidens ʼn verklaring van die beweging het Boshoff die tuig neergelê om “oorhoofse verantwoordelikheid te aanvaar vir bestuursgebreke wat tydens sy termyn ingetree het, al word dit nie aan sy persoon verbind nie”.

Volgens Boshoff wil hy nuwe uitdagings aanpak en ruimte skep vir nuwe leiers – nie net wat korporatiewe beheer betref nie, maar ook om ʼn “nuwe era met nuwe inisiatief en insig tegemoet te gaan”.

Daar is vroeër berig Boshoff het vir homself ʼn motor van meer as R100 000 gekoop en hy het glo sy eie salaris verhoog.

Die organisasie het egter ná ʼn vergadering gesê daar was “geen sprake van enige misdryf deur enige van sy ampsdraers” nie.

Die Orania Beweging se burgerraad het in dieselfde vergadering ook ʼn mosie aanvaar waarin hy hom verbind tot goeie korporatiewe beheer en verantwoordbaarheid.

In die verklaring het Sarel Roets, woordvoerder van die Orania Beweging, gesê die voorbeeld wat die organisasie en sy leiers stel om verantwoordelikheid te neem vir leemtes, selfs waar daar geen sprake van skuld of korrupsie was nie, is ʼn navolgenswaardige voorbeeld.

“In gesonde demokrasieë staan leiers terug om verantwoordelikheid te dra vir politieke leemtes, selfs waar daardie leemtes nie deur hulle toedoen ontstaan het nie. Die bedanking (vroeër) van die Britse eerste minister, Theresa May is ʼn goeie voorbeeld daarvan.

“Orania as ʼn gemeenskap en as ʼn breër politieke idee, deel daardie kultuur van verantwoordbaarheid en skuldlose aanspreeklikheid en sou graag wou sien dat daardie kultuur inslag vind in die breër Suid-Afrikaanse landskap, omdat dit noodsaaklik is vir die groei en sukses van gemeenskappe en state,” het Roets gesê.

Die beweging se uitvoerende raad sal nou met die proses begin om ʼn opvolger vir Boshoff te vind.

Die struktuur van die Orania Beweging en spesifiek die rol en pligte van die president, uitvoerende raad en uitvoerende hoof moet herbedink en herdefinieer word en die Orania Beweging moet homself herstruktureer en ontbondel,” lui die verklaring.

Die organisasie het gesê hy het die afgelope paar jaar geweldig gegroei en dat dit groot druk op sy bestaande personeel en infrastruktuur geplaas het.

Die raad moet ook ʼn tussentydse bedryfshoof aanstel om die meerderheid van die aanbevelings van ʼn taakspan oor die verbetering en verfyning van prosedures en beleidsraamwerke vir administratiewe en korporatiewe beheer, te implementeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

63 Kommentare

jongste oudste gewildste
Talie

Dis baie nederig om n motor van R 100 000 te koop as jy vergelyk waarmee ons land se regeringsmense mee rondry.

Dries du Toit

Sterkte en ons bid hard vir julle. Julle bly die pioniers met n edele roeping. Die vlugtelinge uit SA sal nog volg

Gatvol

Bedank om die blaam te neem vir bestuursgebreke? Baie sagkens gestel.

Hans

Wel, as president van die Orania beweging bedank, moet die res nie ook as medepligtiges die eerbare weg doen nie? Of verstaan hul nie eerbare weg van verantwoordelikheid neem nie?

Adam

Hy het nogal lank uitgehou in Afrikaner Utopia. Ek kan nie help om te wonder hoekom al die selfbeskkings-voorstanders nie na Orania verhuis nie.