Boston-huisbrand: ‘My kind gaan deur hel’

Wynandt Vermaak in die hospitaal. By hom is sy pa, Morne. Foto: Facebook

Wynandt Vermaak, die 14-jarige seun van Boston in die Wes-Kaap wat vroeër vandeesmaand erge brandwonde in ʼn huisbrand opgedoen het, kry emosioneel baie swaar waar hy steeds in die Melomed private hospitaal in Kaapstad behandel word.

“My kind gaan deur hel. Hy is emosioneel tans glad nie op ʼn goeie plek nie,” het Lelani Vermaak, Wynandt se ma, Maandag aan Maroela Media gesê. “Sy vel is so rou, dit brand soos ʼn kool vuur onder die verbande. Hulle spuit vir hom morfien in, maar dit is nog steeds so seer. Daarby is sy lyf self so seer van heeltyd lê, maar daar is niks anders wat hy kan doen nie. Hy kan nêrens anders gaan as daardie bed nie. Hy is verveeld. Hy is kwaad. Hy kry nagmerries. Hy is net emosioneel glad nie op ʼn goeie plek nie.”

Volgens Lelani het Wynandt ʼn effense terugslag gehad nadat hy verlede week ʼn kiem opgedoen het wat onder sy vel begin groei het. Hy moes verlede week ʼn kursus antibiotika en ʼn bloedoortapping kry en sal vandeesweek nog twee ander antibiotika-kursusse ontvang.

“Wynandt was gister ook weer in die teater waar hulle weer veloorplantings op die linkerskouer gedoen het wat reeds voorheen gedoen is, asook oor sy hele rug en stukkies voor by sy sleutelbeen en keel. Hulle het die vel van sy linkerbobeen geoes, so daar het hy ook nog baie pyn,” het sy verduidelik.

Vel word vir Wynandt gekweek. Foto: Facebook

“Die dokters het nou plasma by hom gevat en is besig om vel in ʼn broeikas te kweek vir die volgende oorplantings – dan sal hulle gelukkig nie weer vel hoef te oes nie. Dit is darem een seer wat minder gaan wees.” Wynandt volg nou ook ʼn hoëproteïendieet om seker te maak dat sy lewer gesond bly.

“Hy kan steeds besoekers ontvang, maar net twee mense op ʼn slag. Sy familie en vriende maak beurte om twee-twee by hom in te gaan en bietjie te kuier. Ek dink dit is baie belangrik vir sy gemoedstoestand om sy mense te sien,” het Lelani gesê.

Intussen bly Lelani, haar man, Morne, en die egpaar se vyfjarige dogter, McKenzie, steeds by die Broadway-gastehuis in Bellville wat vir die gesin al sedert die brand gratis verblyf bied totdat hulle op 1 September in hul nuwe huis kan intrek. “Hierdie mense is regtig ongelooflik. Ons sou letterlik dakloos gewees het as dit nie vir hulle was nie. Ek weet nie hoe ons ooit genoeg sal kan dankie sê nie,” het Lelani gesê.

Maroela Media het vroeër berig ʼn brand het die aand van 6 Julie in Wynandt se kamer in die gesin se huis in Boston ontstaan. Lelani het geluide in die huis gehoor en gaan ondersoek instel en toe sy Wynandt se kamerdeur oopmaak, het sy gesien die hele vertrek is in vlamme gehul. Lelani het Wynandt uit die brandende kamer geruk en hom op die vloer laat rol om die vlamme op hom te blus.

Wynandt Vermaak in die hospitaal. Foto: Facebook

Nadat sy vir Wynandt na buite geneem het, het sy teruggehardloop in die brandende huis om McKenzie uit haar kamer te gryp. Morne het intussen probeer om die vlamme te blus, maar dit het vinnig al langs die plafon af na die res van die huis versprei en Morne moes naderhand noodgedwonge die aftog blaas. Die grootste deel van die huis is in die brand verwoes.

Wynandt het brandwonde oor 60% van sy lyf opgedoen, terwyl Lelani erge brandwonde aan haar hande en voete opgedoen het. Sy is ongeveer twee weke lank in die Mediclinic Louis Leipoldt behandel en is verlede week ontslaan.

“Dit voel asof hierdie nagmerrie net nie einde kry nie. Dit sal hierdie week ʼn maand wees sedert die brand en daar is nog steeds so ʼn lang pad voor ons. Ek huil elke keer dat ek daar by Wynandt wegstap, want dit is aaklig om jou kind so te sien. Dit is nog steeds baie moeilik vir ons almal. Al wat ons kan doen, is vasbyt.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Ansie Gous ·

Lelanie en gesin. Ek is baie jammer dat julle deur soveel swaar moet gaan en sal vir julle bid. Jy moet prober om klein Pippie van Lephalale (Ellisras) se ma op facebook te kontak. Sy het ‘n boek geskryf oor hulle ervarings nadat Pippie in 2011 baie erg verbrand het toe braaiaansteker vloeistof oor haar uitgeval het. Die boek se naam is “Pippie” Haar se naam is Anina maar ek is nie seker van hulle van nie.

Ada ·

Ai ek dink aan julle – wat ‘n moeilike tyd. Sterk wees . Hoop die pynmedikasie maak die seer ligter.

Anitha ·

Hierdie is NIE maklik NIE..maar… MOONTLIK… self so ervaring in my lewe gehad.. staan sterk in geloof…bid sonder ophou… kyk na mekaar..

Catherine ·

Ai julle is elke dag in my gebede.Sterkete met alles. Dink aan julle.
Ek wil ook net se indien ons ooit in Belville omgewing is ek defnitief BROADWAY GASTEHUIS sal ondersteun. Dit wys jou net daar is nog goeie mense daar buite! Thumbs up vir julle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.