Boston-huisbrand: Seun ontslaan ná maand in hospitaal

Wynandt Vermaak by sy pa, Morne, op pad huis toe nadat hy uit die hospitaal ontslaan is (7 Augustus 2017). Foto: Verskaf

Wynandt Vermaak, die 14-jarige seun van Boston in die Wes-Kaap wat verlede maand erge brandwonde in ʼn huisbrand opgedoen het, is Maandag ná ʼn maand in die hospitaal ontslaan.

Lelani Vermaak, Wynandt se ma, het Dinsdag aan Maroela Media gesê dit is emosioneel oorweldigend om haar seun uiteindelik by die huis te hê. “Ek het gisteraand so goed geslaap net met die wete dat hy nou by die huis is. En dit is natuurlik vir hom wonderlik om uit die hospitaal te wees.”

Volgens Lelani is sy nog bang en onseker oor Wynandt se tuisversorging, aangesien sy herstelpad nog lank nie verby is nie. “Ek moet sy rug elke uur met room insmeer en sy vel moet elke dag op ʼn sekere manier masseer word. Sy vel is baie rooi en warm en sy liggaamstemperatuur gaan op en af. Hy drink ook nog baie pille en moet steeds ʼn hoëproteïendieet volg. Ek is nog baie op my senuwees en hierdie is ʼn baie onbekende gebied vir my, maar ek glo oor ʼn week of twee sal ek presies weet wat om te doen,” sê sy.

Wynandt moet ook weekliks die dokter besoek en arbeids- en fisioterapie ontvang, aangesien sy spiere baie verswak het gedurende sy lang tyd in die hospitaal. Hy kan net 100%-katoenklere dra en mag nog glad nie in die son kom nie. Volgens Lelani sal dit nog ʼn rukkie wees voordat hy sy skoolwerk kan hervat, hoewel hy reeds baie uitsien om weer in die klaskamer en by sy maats te wees.

Wynandt Vermaak by die huis nadat hy uit die hospitaal ontslaan is (7 Augustus 2017). Foto: Verskaf

Lelani sê deur dit alles staan sy verstom oor Wynandt se ingesteldheid en veggees tydens hierdie beproewing wat hy moet deurgaan. Sy vertel dat die verpleegpersoneel by die hospitaal aan haar vertel het hoe hy elke dag sy pyn verdra het en nooit gekla of kort van draad geraak het nie. “Die personeel het soveel respek vir hom omdat hy heeltyd so sterk was. Hy was werklik vir hulle ʼn inspirasie. En nou nog kla hy nie. Hy sê net oor en oor hoe dankbaar hy is dat hy lewe en dat ek lewe en dat sy pa en sussie nie iets oorgekom het nie.”

Maroela Media het vroeër berig ʼn brand het die aand van 6 Julie in Wynandt se kamer in die gesin se huis in Boston ontstaan. Lelani het geluide in die huis gehoor en gaan ondersoek instel en toe sy Wynandt se kamerdeur oopmaak, het sy gesien die hele vertrek is in vlamme gehul. Lelani het Wynandt uit die brandende kamer geruk en hom op die vloer laat rol om die vlamme op hom te blus.

Wynandt het brandwonde oor 60% van sy lyf opgedoen, terwyl Lelani erge brandwonde aan haar hande en voete opgedoen het. Lelani se man, Morne, en dogter, McKenzie, was ongedeerd. Die grootste deel van die huis is egter in die brand verwoes.

Lelani sê ten spyte van die trauma waardeur die gesin saam moes gaan, is sy deeglik bewus van die duisende gebede wat hulle hierdeur gedra het. “Ek dink daar is meer as 3 000 mense wat vir ons gebid het. Hierdie is die mag van gebed. Daar het ʼn wonderwerk voor ons oë gebeur en ons mag dit nie miskyk nie. Die Here is ongelooflik goed vir ons en ek dink hy het ʼn wonderlike pad vir Wynandt uitgelê vorentoe. En dit is waarop Wynandt fokus.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

LS ·

Amen !!!
So bly dit gaan al beter, sterkte vorentoe vir die hele huisgesin

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.