Boswell-sirkusbase nie vervolg: ‘Geregtigheid het nie geskied’

'n Skermskoot uit die video wat op Carte Blanche uitgesaai is.

‘n Skermskoot uit die video wat op Carte Blanche uitgesaai is.

Die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) het Donderdag gesê hy is uiters teleurgesteld met die direkteur van openbare vervolging se besluit om nie die twee eienaars en ʼn werknemer van die bekende Brian Boswell-sirkus te vervolg nie.

Jane Boswell, haar dogter Georgina en David Marais, ʼn olifanthanteerder, is aangekla vir die beweerde mishandeling van sirkusolifante tussen Desember 2012 en Januarie 2013. Die aanklagte teen hulle is egter in April vanjaar in die Port Elizabeth-landdroshof teruggetrek weens ʼn gebrek aan bewyse.

Senior inspekteur Isabel Wentzel, bestuurder van die NDBV se wildbeskermingseenheid, het gesê sy voel geregtigheid het nie in hierdie geval geskied nie.

Adv. Chris de Klerk, adjunkdirekteur van openbare vervolging, het gesê hoewel daar videomateriaal is wat die mishandeling van die olifante vasvang, kan die individue wat op die video gesien word en in die tyd in die diens van die Brian Boswell-sirkus was, nie opgespoor word nie. De Klerk het gesê voordat die eienaars van die sirkus aanspreeklik gehou kan word, moet daar bewyse wees hulle het wetend die mishandeling van die olifante toegelaat of versuim om redelike toesig oor die olifanthanteerders te hou.

“Die NDBV hou vol ooggetuies het verklarings afgelê wat aandui dat die sirkuseienaars persoonlik ingelig is oor die olifante wat geslaan word, self nog voordat die video geneem is, maar hulle het versuim om op te tree,” het Wentzel gesê.

“Die Wet op Dierebeskerming stipuleer dit is ʼn oortreding vir enige diere-eienaar om die mishandeling van diere toe te laat deur passief te reageer en die mishandeling toe te laat nadat dit onder hul aandag gebring is. Blykbaar word al die blaam nou gerieflik voor die deur van die ongeïdentifiseerde hanteerders, wat afgedank is voordat hulle hul kant van die saak kon stel, gelê. Tensy hulle opgespoor kan word, sal hierdie olifante nooit enige geregtigheid kry nie.”

Die twee olifante waarvan die mishandeling op video vasgevang is, is intussen uit die sirkus verwyder en verskuif na die Natalse Dieretuin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

m ·

Vat al die diere weg, duidelik voel hierdie mense vere vir hulle diere se welstand.

Justa ·

Alle sirkus diere moet uit sirkusse verwyder word. Hulle lewe is hel op aarde.

Karma ·

Die NDBV moes van die begin af geweet het, toe die saak uit die hof gegooi is vanweë te min bepalende getuienis, dat die NVG nie die saak verder sou voer nie. Ek het ‘n goeie idee dat ‘n hand of drie dalk gebotter is onder deur die tafel, om getuienis te laat verdwyn of getuies bang te praat sodat hulle nie kan/wil getuig nie want hulle kan nie opgespoor word nie. Die enigste manier om dieremishandeling by sirkusse en dieretuine te voorkom, is om hulle te boikot. Sirkusse is in elk geval só “verlede eeu” – geen vermaaklikheidswaarde meer nie – #BRIANBOSWELLCIRCUSMUSTFALL!!!

Maddox ·

Stem 1000,1000,1000 keer sam met jou stelling. Doen weg met alle sirkus en dieretuine. Die arme diere word so mishandel in die plekke, net vir die vermaak van mense. Rerig sieklik!

MCS ·

Ek ondersteun lankal nie meer n sirkus, en dink elke persoon behoort dit ook tedoen! Die kool is nie die sous werd!

Xa ·

Onthou altyd, die magtigste wapen is jou eie beursie en jou sosiale sirkels. As n maatskappy iets doen wat jou pla, moet hulle nooit weer ondersteun nie en moedig al jou vriende ook aan om dit te doen.

marianne ·

Ons is persoonlikke kennise van die Boswells. Ons is uiters geskok en teleurgesteld dat ‘n bekende en beminde familie in so ‘n skandaal betrek is.
Die diere in Lynnfield Park buite PMBurg wat aan die familie behoort word wel ordentlik versorg.
Dis ‘n onsmaaklike hardseer incident.

Xa ·

Dalk was dit net n uitsonderlike incident ja en dalk Kyk hulle eintlik baie mooi na die diere. Ek het my respek vir die DBV verloor nadat hulle die bestryding van n indringerspesie wat direk tot die doodmaak en uitsterf van plaaslike species veroorsaak, verloor en kon hulle nie sederdien weer ernstig opneem nie.

Leon Pit ·

Nie genoeg bewyse nie nou verstaan ek niks, daar is dan Video materiaal wat duidelik wys hoe daai Olifante verniel en geslaan word. Die DBV vervolg net die gene wat nie regshulp kan bekostig nie maar groot instansies vat hy nie aan nie. Swak DBV of regstelsel.

neelsie ·

Waarom nie vervolg nie ………diere is vir jare mishandel.
Maak eienaars en afrigters ook met kettings om bene vas soos die arme olifant!!!

Oom Kalahari ·

Dit laat mens se hare rys om nie op te tree teenoor diere mishandelinge nie. Daar was duidelike video material beskikbaar en hierdie Jane Boswell, haar dogter Georgina asook David Marais (Olifanthanteerder) weet ten volle wat op hul perseel en werkers daagliks aangaan, maar hul het dit laat verbygaan. ‘n Dier wat nie kan praat en aanhoudend vas is en geslaan word is wreed. Boikot hierdie Sirkus (Brian Circus) want hul tree ongenaakbaar op en glo ‘n vrywillige hand het paar note onder die tafel gewissel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.