Botsing eis jong man

Die ongeluk het in die vroeë oggendure gebeur. (Foto: Verskaf)

ʼn Jong man, wat vermoedelik in sy 20’s is, is Donderdag in die vroeë oggendure dood aangetref nadat hy oënskynlik in ʼn kop-teen-kop-botsing betrokke was. Die twee insittendes van die ander motor het met matige tot ernstige beserings van dié ongeluk afgekom.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, sê paramedici het om 01:00 twee motors op JG Strydomweg in Weltevredenpark, Johannesburg, aangetref.

“Die twee motors het in die middel van die pad gestaan en skynbaar teen mekaar gebots,” sê hy.

“ʼn Jong man was in een van die motors vasgekeer. Hy het egter reeds aan verskeie beserings beswyk en is op die toneel dood verklaar.”

ʼn Passasier van die ander motor is deur paramedici ondersoek, waarna dit aan die lig gekom het dat hy matige beserings opgedoen het.

Die bestuurder van die motor, glo in sy 40’s, was egter ernstig beseer en in ʼn kritieke toestand.

“Die bestuurder het op die toneel gevorderde lewensondersteunende mediese sorg ontvang, voordat hy en die passasier vir behandeling na ʼn plaaslike hospitaal geneem is,” sê Meiring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.