Botsing op N1 eis lewe van vyf

Die ongelukstoneel op die N1 tussen tussen Kranskop en Middelfontein in Limpopo. (Foto: Verskaf)

Vyf mense is dood en verskeie ander beseer toe vyf voertuie Vrydag op die N1 naby Mookgophong (Naboomspruit) in Limpopo gebots het.

Mike Maringa, woordvoerder van die provinsiale departement van vervoer, sê die buiteband van ʼn sportnutsvoertuig het gebars en dit het gelei tot ʼn trompop botsing met nog twee voertuie. Meer inligting is tans nie bekend nie.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, sê die wrakstukke van vyf motors het by paramedici van dié nooddiens se aankoms verspreid oor die snelweg gelê. Die provinsiale brand-en-reddingsdienste was in dié stadium reeds op die toneel. Die pad was gesluit en die verkeer is herlei.

Vier mense was in dié stadium reeds op die toneel dood verklaar. Vier ander het in ’n kritieke toestand verkeer.

Meiring sê een van die kritiek beseerdes het tydens behandeling op die toneel aan sy of haar beserings beswyk. Die geslag van die persoon is nie bekendgemaak nie.

Die beseerdes is op die toneel behandel voordat hulle na nabygeleë hospitaal geneem is vir verdere mediese behandeling.

Die N1 tussen Kranskop en Middelfontein naby Mookgophong was sowat vier ure lank gesluit en verkeer wat noordwaarts beweeg is by die tolhek via Modimolle (Nylstroom) herlei.

Volgens Maringa is die snelweg intussen weer oopgestel.

Die plaaslike owerhede stel ondersoek in na oorsaak van die ongeluk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.