Botswana maak oorsaak van olifantsterftes bekend

‘n Dooie olifant in die Okavango-delta. (Photo via AP)

’n Bakterie in waterbronne het die dood van meer as 350 olifante in Botswana veroorsaak.

Die olifantkarkasse is sedert begin Mei in die Okavango-delta gevind. Daar is destyds gesê dat sowat 70% van die olifante naby ’n watergat inmekaargesak het. Dit het ook gelyk of van die olifante baie skielik dood is aangesien hulle vorentoe met hul tande in die grond geval het eerder as op hul sye.

Mamadi Reuben, hoofveearts by Botswana se departement van natuurlewe en nasionale parke, het gesê ontledings van monsters wat onder meer van karkasse, grond, bloed en water uit seisoenale waterpanne vir laboratoriumtoetse geneem is, het sianobakterieë opgespoor.

Sianobakterieë wat in die water in die Okavango-delta groei, kan dodelike gifstowwe produseer. Volgens Reuben het van die olifante tekens van ʼn senuweestelselineenstorting getoon.

“Ander diere wat van dieselfde waterbronne gedrink het, is nie noodwendig soortgelyk geraak nie aangesien olifante hul slurpe gebruik om water onder die oppervlak te kry waar die bakterie groei.”

Volgens Reuben het hulle ook opgemerk dat daar nie nog sterftes aangemeld is toe die waterpanne in Junie begin opdroog het nie. “Ons weet die reënseisoen is om die draai en ons werk aan sekere strategieë om te verseker dat ons nie nog olifantsterftes in daardie gebied aanmeld nie.”

Maroela Media het vroeër berig daar is aanvanklik erg bespiegel oor wat moontlik tot die olifantsterftes kon lei. Wat hierdie sterftes van vorige gevalle onderskei het, is dat dit voorgekom het in ’n gebied wat deur olifante, mense en vee bewoon word, eerder as in ’n beskermde gebied, wat gelei het tot die aanvanklike bespiegeling dat direkte menslike optrede die oorsaak was. Karkasse van olifante is egter ongeskonde gevind, terwyl geen ander spesies geraak is nie, wat kwaadwillige vergiftiging en stropery onwaarskynlik gemaak het.

Dit het gelei tot bespiegeling dat siekte, biovergiftiging van die omgewing of hongersnood dalk die rede was. Kenners was dit egter eens dat hongersnood ’n onwaarskynlike oorsaak is, aangesien die noorde van Botswana laat in die seisoen swaar reën gekry het.

Botswana het ’n olifantbevolking van nagenoeg 130 000.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johann ·

Ja shure? Nou skielik na hoeveel dekades? Dis mos HOOGS on waarskeinlik? Wys my EEN Afrika land wat nie sy eie EN sy buurlande se natuur stroop of verwoes nie.

Colin ·

As hulle gestroop was sou die tande mos nie meer daar wees vir enigiemand om op te tel nie?

Johannes Andreas ·

Hulle (die olifante) drink al geslagte lank daar water, saam met ander wildlewe. Die visse in daardie waterbronne is nie aangetas nie so ook nie ander wildlewe nie. Dit laat my wonder of daar nie dalk ‘n ander oorsaak, soos byvoorbeeld verlaagde immuniteit weens oorlewingstres, oorweeg moet word nie. Dis algemeen bekend dat Botswana ‘n oorbevolking olifante het wat habitat en ekologiese vernietiging teweegbring. Oorlewingstres weens wanvoeding en ondervoeding kan die nstuurlike immuniteit teen die bakterie sodanig verlaag dat dit kon aanleiding gee vir die skielike sterftes. Net ‘n gedagte. Enige veterinêre ekoloë daar buite wat dalk hierdie teorie kan bewys of weerlê?

Johannes Andreas ·

Haha, of dalk net op sekere dieptes en volgens opgestelde rooster.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.