Botswana-saak: Departement staan aansoek nié teen

Adv. Gerrie Nel (Foto: Verskaf)

Die departement van justisie en korrektiewe dienste het versuim om die mandamus-aansoek teen te staan wat ten doel het om die departement te dwing om wedersydse regshulp aan die Botswana-regering te fasiliteer in die saak teen oudpres. Ian Khama van Botswana en die Suid-Afrikaanse sakevrou Bridget Motsepe-Radebe.

AfriForum se private vervolgingseenheid het Woensdag bekend gemaak die departement het in gebreke gebly om enige formele stukke betyds in te dien. Die aansoek is nou op die ongeopponeerde hofrol vir 7 Julie volgende jaar geplaas.

Maroela Media het vroeër berig die departement van openbare vervolging in Botswana ondersoek bewerings van bedrog en geldwassery teen Khama en Motsepe-Radebe, die skoonsuster van pres. Cyril Ramaphosa en vrou van Jeff Radebe. Die bewerings hou verband met bankrekeninge by die Bank van Botswana.

Advv. Gerrie Nel en Phyllis Vorster van AfriForum se private vervolgingseenheid is vroeër vanjaar deur die Botswana-regering aangestel om dié regering se versoek om wedersydse regshulp te fasiliteer.

Die private vervolgingseenheid sê hy is nié gelukkig met Ronald Lamola, die minister van justisie en korrektiewe dienste, nie.

Ronald Lamola (Foto: Kopano Tlape GCIS)

Nel het onthul dat die departement nog geen formele terugvoer aan die Botswana-regering verskaf nie.

“Dit is uiters ongehoord dat die respondent in ’n hofaansoek geen formele kommunikasie oor só ’n belangrike aangeleentheid stuur nie en versuim om met die applikant se regsverteenwoordigers van rekord kontak te maak.

“Lamola het self te kenne gegee dat sy departement ’n dringende behoefte aan vernuwing het en dat die departement se rol behoort te wees om die strafregstelsel toeganklik te maak. Lamola se optrede in hierdie aangeleentheid en die blatante verontagsaming van hofreëls bewys egter dat sy departement self geen respek vir die regstelsel het nie. Dit blyk dat Lamola daarop fokus om diegene met politieke verbintenisse te beskerm eerder as om sy departement reg te ruk.”

Nel het daarop gewys dat die departement gou gespring het om lasbriewe uit te reik vir die selfverklaarde profeet Shepherd Bushiri en sy vrou Mary se inhegtenisneming en reeds met die uitleweringsproses begin het.

“Dít terwyl die proses vir die uitlewering van beskuldigdes in twee van die ander internasionale sake waarby die private vervolgingseenheid betrokke is, bly sloer.”

Dit sluit in die saak teen Ismael Gafaranga en Alex Sugira, die beskuldigdes in die moord op Patrick Karegeya, die voormalige intelligensiehoof van Rwanda, asook die uitlewering van Grace Mugabe vir die beweerde aanranding van Gabriella Engels in 2017.

“Dit blyk dat Lamola bloot die beginsels van die strafregstelsel wil toepas wanneer dit hom pas en nie ten opsigte van persone met politieke verbintenisse nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
JohanR

Sa… vat hulle Gerrie!

domheks

JohanR – kon dit nie beter stel nie! anc wil kies wie om te vervolg en wie nie! S K A N D E ! !
Maar laat jy nou ‘n wit vel het – is jy sommer toegesluit voordat jy iets gedoen het…

Jakes

Glad nie n verrassing nie. Natuurlik is Lamola n kader van die ANC.

Adam Adriaan

Wat kan enige mens iets anders verwag van die optrede van die ministers van die ANC. Bly aanmekaar alles toesmeer. Sal nie verbaas wees as daar van die edel, hooggeplaasdes in sy kring, nie ook betrokke is by die saak nie

JM

Wat van Janusz Walus wat steeds nie parool kan kry nie, want Hani se vrou moet haar sin kry! Lamola het geen sin vir regverdigheid nie, dit gaan net oor die kaders.