Bou-aanpassings vir gestremde huurders

(Argieffoto)

Deur Linette Retief

Tania*, ’n persoon wat ’n rolstoel gebruik weens veelvoudige sklerose (VS) het onlangs met groot verwagtinge by ʼn splinternuwe tuinwoonstel ingetrek. Haar opwinding het egter kort voor lank in frustrasie verander. Van die aanpassings wat die verhuurders belowe het om te maak om haar lewe as ʼn gestremde persoon te vergemaklik, was min te sien.

Die oprit na die voordeur was te nou en te lank. Die kragproppe was te hoog geïnstalleer wat beteken sy kon nie self toestelle inprop en aan- of afskakel nie. Die ruimtes vir die wasmasjien en skottelgoedwasser is eweneens verkeerd bereken en die elektrisiteitstoevoer was ʼn fiasko.

Haar grootste nagmerrie was egter die badkamer. Die ingang, ʼn skuifdeur, was te nou. Tussen die kommode-tipe toilet en ondeurdagte plasing van die badkamerkassie was daar nie plek om ʼn kat te swaai of ʼn rolstoel te draai nie. Voor die stort was ʼn sementskeiding wat vir enige gestremde die ekwivalent van Mount Everest sou wees. En nêrens was handrelings nie; ’n hulpmiddel wat Tania broodnodig het om haarself op te hys omdat haar bene te swak is.

Die rede vir die verhuurders se versuim was klaarblyklik finansiële druk weens die Covid-19 inperking, wat enersyds te verstane is. Andersyds betaal Tania maandeliks haar volle huur terwyl die kwaliteit van haar lewe, beide fisiek en sielkundig, gekompromitteer is.

Die nodige voorsorgmaatreëls en beter kommunikasie, ook van Tania se kant af, kon egter baie kopsere vermy het, sê Therina Wentzel du Toit, direkteur van die Nasionale Raad vir Persone met Gestremdhede (NRPG).

“Dit is vir my verstommend dat Tania nooit voordat sy ingetrek het na die woonstel gaan kyk het nie en dat sy skynbaar staatgemaak het op beloftes wat uiteindelik nie gestand gedoen is nie. Dis nooit hoe dit werk nie,” maan Wentzel du Toit.

“Terselfdertyd wonder ’n mens oor die verhuurders; is hulle dan onsensitief? Die minste wat hulle kon doen, was om betyds vir Tania te laat weet dat sy nie meer ’n geskikte huurder sou wees nie omdat hulle nie meer die nodige verbouings kan befonds nie”.

Ten spyte van al die letterlike en figuurlike struikelblokke bly Tania egter vasberade om deur te druk – nie net vir haarself nie, maar ook om bewustheid te skep van die uitdagings waarmee gestremde persone dikwels te kampe het.

In hierdie opsig – en met toeganklikheid as die sleutelwoord – het sy aangeklop by en saamgespan met Danie Marais, ’n senior bestuurder by die NRPG.  Saam het hulle vorendag gekom met die volgende riglyne:

Draairuimte

Maak seker dat die relevante ruimtes, onder meer opritte, gange en ingange die nodige draairuimte vir ʼn rolstoel het. Die voorgestelde draairuimte vir ’n rolstoel, gidshond of persoon op krukke, is ’n minimum van 1,5 meter in deursnee, insluitend die nodige  toon- en knieruimte.

Opritte

Opritte behoort ’n minimum gradiënt van 1:12 te hê, met ’n breedte van 1 100 mm.  In pas met beste praktyk en om aan buitemuurse omstandighede ook te voldoen, word ’n gradiënt van 1:15 aanbeveel.

Verder moet ’n rand met ’n minimum hoogte van 50 mm of ’n soliede versperring of pypreling met ’n maksimumhoogte van 50 mm vanaf die oprit opgerig word as ’n veiligheidsbuffer vir rolstoele. Alle oppervlakke moet glybestand wees.

Ingange / Deuropeninge en gangbreedtes

Ingange behoort vrye toegang aan rolstoelgebruikers te bied. Hier is ’n uiteensetting van die verhouding van gangbreedtes tot deurbreedtes:

Gangbreedtes                     Deuropeninge

A                                            B

mm                                        mm         

1 200                                     750

 1 100                                     850

1 050                                     900

1 000                                     950

950                                  1 000

900                                  1 050

Les bes, skuif- eerder as oop- en toemaakdeure is verkieslik.

Werkoppervlakke

Die werkoppervlakke moet die korrekte hoogte wees sodat die rolstoelgebruiker toegang het tot alles en alles kan bykom.

Badkamers en toilette

Die ideale badkamer se vloer het ’n gelykvlakkige dreineringsgat en ʼn stortgedeelte wat op dieselfde vlak as die res van die vloer is. Dit sal die nodige ruimte skep vir ʼn kommode met wiele om ingerol te word en die water om daarna via die (gelykvlakkige) afleipunt weggedreineer te word.

ʼn Kommode-toilet kan bo-oor die oorspronklike toilet gemonteer word, veral indien laasgenoemde te laag is vir die gestremde persoon. Handrelings aan beide kante van die toilet word aanbeveel.

Kragpunte en sekuriteitsbeheer

Alle sekuriteitskontroles en ligskakelaars moet horisontaal in lyn wees met deurhandvatsels asook ander toebehore en passtukke (afgesien van kragpunte), tussen 900 mm en 1,2 meter bo die afgewerkte vloervlak.

(Foto: @tingeyinjurylawfirm/Unsplash)

Vierdubbelde regsbeskerminng

Volgens Ferdi Verryn, direkteur van Verryn Matlhare Attorneys in Brooklyn, Pretoria, word persone met gestremdhede op ’n verskeidenheid vlakke deur ’n aantal wette beskerm:

Grondwet

Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika stipuleer dat almal gelyk is voor die Wet en maak boonop voorsiening vir die volgende regte:

  • Daar mag nie direk of indirek onregverdig teen enige persoon gediskrimineer word op grond van enigiets, insluitend gestremdheid, nie; en
  • Elke mens het die reg op inherente waardigheid en dat hierdie reg gerespekteer en beskerm sal word.

Mense het ook die reg om nie op ’n wrede, onmenslike of vernederende manier behandel te word nie.

Verbruikerswet

Die Wet op Verbruikersbeskerming definieer ’n verbruiker as “ ’n persoon aan wie spesifieke goedere of dienste (onder meer toegang tot of gebruik van enige perseel of enige eiendom deur verhuring) bemark word. Binne hierdie konteks is die Verbruikerswet onder meer verantwoordelik vir die volgende:

  • Om verbruikers te beskerm teen faktore wat hul veiligheid in gevaar stel;
  • Om hulle te beskerm teen onredelike, onregverdige of andersins onbetaamlike handelspraktyke en misleidende en/of onregverdige optrede; en
  • Die ontwikkeling van doeltreffende regstellende middele.

Wet op Huurbehuising

Hierdie wet het gelei tot die totstandkoming van die Huurbehuisingstribunaal wat, onder meer, verantwoordelik is vir die hantering van klagtes van huurders teen verhuurders. Die Wet stipuleer dat ’n verhuurder nie onregverdig mag diskrimineer teen voornemende huurders of huurders op grond van, onder meer, gestremdheid nie.

Die Gewysigde Wet op Huurbehuising fokus op die bewoonbaarheid van huurakkommodasie gemeet aan die volgende kriteria:

  • Genoegsame ruimte;
  • Beskerming teen die elemente en ander gesondheidsbedreigings;
  • Fisieke veiligheid van die huurder, asook die huurder se huishouding en besoekers; en
  • Die strukturele soliditeit van die gebou.

 * Skuilnaam

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

17 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jdb

Bietjie baie gevra van ‘n verhuurder, tensy hy daarvoor vegoed word.

Tewis

Hoe dom is een mens om nie na ń plek tegaan kyk voor jy besluit om ń plek tehuur.
Die persoon moet by ń aftree oord gaan plek soek waar dit in gerig is vir sulke versoeke . Ooo en die krag proppe wat tehoog is wat ń grap. Ek dink die peroon soek net aandag.

Swerwer

Dit is verregaande. As gestremde gaan jy beslis eers kyk of die plek voorsien aan al jou behoeftes voor jy ‘n huurooreenkoms aangaan.
Geen verhuurder kan forseer/gedwing word om aanpassings te maak vir iemand in die huidige
finansiële druk wat tans heers nie.
Alles word darem regtig nou uit verband geruk.

Suzette

Tania of haar familie moes eers na die woonplek gaan kyk het voordat sy intrek, dit is ‘n fout wat sy gemaak het. Aan die ander kant besef die meeste mense nie watter beperkings gestremde persone in die “normale” lewe ervaar nie. Ek het ‘n seun wat serbraal gestremd is en het al geleer om deur sy oë na die wêreld te kyk. Ons wil ook baie graag gaan vakansie hou, maar ai, om ‘n geskikte ple te kry wat rolstoelvriendelik is, is makliker gesê as gedoen. Normaalweg dink mense nie aan gestremdes wanneer ites gereël of beplan word nie.… Lees meer »

VaalDonkie

Jy weet ne, daai tuinwoonstel verhuur seker vir so R5000 per maand, maksimum. en dan moet jy nog inkomstebelasting op daai huurinkomste betaal. jy is gelukkig as jy R3500 per maand daarvan sien. En dan word daar van jou verwag om byna twee jaar se inkomste te spandeer daaraan om die plek reg te kry vir ‘n sekere soort huurder? Ek is jammer, ek voel vir Tania, maar ek voel ook vir die verhuurders vir wie dit glad nie finansieel sou sinmaak om al daardie onkostes aan te gaan nie. EN dis ook nie asof hulle vertroud is met al… Lees meer »