Bou jou eie Taalmonument van klei

Philip Botha (Laerskool Hugenote) en Susanne Botha (Sonstraaltjie Speelskool) van Wellington met hul klei-Taalmonumente Foto: Taalmonument (verskaf aan Maroela Media)

Philip Botha (Laerskool Hugenote) en Susanne Botha (Sonstraaltjie Speelskool) van Wellington met hul klei-Taalmonumente Foto: Taalmonument (verskaf aan Maroela Media)

Kinders kan voortaan hul eie monument van klei bou wanneer hulle die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl in die Wes-Kaap besoek.

Volgens Isabeau Botha, bestuurder van die Taalmonument, kan kinders só op ‘n kunstige, kreatiewe manier ontdek dat die Taalmonument ‘n beeldhouwerk eerder as ‘n argitektoniese werk is.

“Ons gebruik ‘n spesiale soort pottebakkersklei wat self hard word – net so hard soos wanneer dit in ‘n oond gebak sou word,” verduidelik Botha. “Kinders kan dus hul monumente saam neem huis toe en op ‘n rak uitstal. Die klei se kleur is soortgelyk aan die kleur van die monument, wat met ‘n betonmengsel van Paarl-graniet, wit sand en sement gebou is.”

Botha sê hulle wil met dié aktiwiteit beklemtoon dat die Taalmonument ‘n bestemming vir almal is, oud én jonk.

“Die Taalmonument is ‘n unieke bestemming wat kultuur, natuur én plesier in een pakket aanbied. Ouers kan by Volksmond Koffiewinkel ontspan met ‘n koppie koffie of ‘n glas wyn terwyl hulle kinders in een van ons parkies speel of ‘n klei-monument bou. Gesinne besoek ons graag om in ons pragtige tuin piekniek te hou. Besoekers kan hul eie piekniekmandjie saambring of een by Volksmond bestel. Ons kort wandelpad van 1.2km is ook baie gewild, want dit is geskik vir almal – fiks én onfiks,” het sy bygevoeg.

Die klei-aktiwiteit kos R25 per kind. Dit is ‘n buite-aktiwiteit wat slegs beskikbaar is indien die weer dit toelaat, maar die klei-stel kan ook gekoop en tuis gebou word. Groepe van groter as 10 kinders moet vooraf bespreek.

Die Taalmonument is daagliks oop vanaf 08:00 tot 17:00 (die hek sluit ‘n halfuur voor toemaaktyd). Die toegangsfooi is R20 vir volwassenes, R10 vir Suid-Afrikaanse studente, R5 vir kinders en gratis vir kinders jonger as ses jaar. Voorafbespreekte skoolgroepe betaal R2 per leerder. Vir meer inligting, skakel 021 863 4809/0543 of klik hier om die Taalmonument se webwerf te besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.