Boucher-era begin op wennoot

Dwaine Pretorius vier Joe Denly se paaltjie. (Foto: ANA).

Trek maar gerus daardie bottel vonkelwyn nader wat jy vir jou Nuwejaarsvieringe weggebêre het, want die Proteas het die eerste toets teen Engeland met 107 lopies op SuperSportpark gewen.

Om dié sege in konteks te plaas: die Suid-Afrikaners was met hul vorige toetsreeks deur Indië in hul agterplaas verrinneweer, terwyl dinge op die administratiewe front ook lekker beroerd gelyk het.

Maar Graeme Smith, Mark Boucher, Jacques Kallis en Charl Langeveldt blyk die regte doepa te wees wat Suid-Afrikaanse krieket só nodig gehad het.

Engeland het vanoggend op die vierde dag se spel voortgekolf met nege paaltjies staande en nog so 250 lopies weg van ’n ietwat onwaarskynlike sege in Centurion.

Tog het Rory Burns (84) en Joe Denly (31) goed gekolf en dit het ’n blitsige aflewering van Anrich Nortjé geverg om van Burns ontslae te raak.

Mark Boucher. Foto: @OfficialCSA/Twitter

So van Nortjé gepraat – met die tafel wat vir Kagiso Rabada en Vernon Philander gedek was om met die boulwerk-louere weg te stap, was dit die 26-jarige Oos-Kapenaar wat vandag die meeste verwoesting gesaai het.

Hy het verskeie aflewerings teen vinniger as 145 km/h afgevuur en so saam met die paaltjie van Burns het hy ook die gevaarlike Joe Root terug na die kleedkamer gestuur.

Engeland het hul laaste ses paaltjies vir slegs 46 lopies binne 12 boulbeurte verloor om die Proteas hul eerste oorwinning in die Wêreldtoetskampioenskap te gee.

Quinton de Kock, wat die Centurion-toeskouers éérs op ’n veglustige 95 lopies, tóé ses vangskote in Engeland se eerste beurt en tóé twee agtereenvolgende sesse van Jofra Archer se boulwerk trakteer het, is welverdiend as die speler van die wedstryd aangewys.

Suid-Afrika se afrigterspan kan ook trots wees op die vertonings van Dwaine Pretorius en Rassie van der Dussen. Dié twee het hul toetsbuigings gemaak en het heel skaflik vertoon – Pretorius met ’n goeie kolfbeurt en ’n paar belangrike paaltjies, en Van der Dussen met ’n komkommerkoel-vyftigtal in die Proteas se tweede beurt.

Dit was hoegenaamd nie ’n toetsreekssege nie en nog minder ’n groot internasionale trofee, maar Suid-Afrikaanse krieket het dié wen broodnodig gehad.

  • Die tweede toets begin op 3 Januarie op Nuweland. Die Proteas sal sonder die dienste van Aiden Markram vir die res van die reeks moet klaarkom. Die jong openingskolwer het sy vinger gebreek terwyl hy veldwerk gedoen het. Hy is deur Keegan Petersen vervang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.