Boucher se aanstelling kry momentum

Mark Boucher. Foto: Facebook.

Graeme Smith se aanstelling as Krieket Suid-Afrika (KSA) se eerste direkteur van krieket het darem vir glimlagte in ’n maand vol fronse vir plaaslike krieketondersteuners gesorg.

Hoewel die oudkaptein van die Proteas net ’n tydelike kontrak van drie maande met die nasionale krieketbeheerliggaam onderteken het, is sy aanstelling – soos wat dr. Jacques Faul tereg gesê het – ’n broodnodige adrenalien-inspuiting vir Suid-Afrikaanse krieket.

Een van Smith se eerste doelwitte is om ’n nuwe afrigter vir die Proteas aan te stel. En kanse is baie goed dat dit sy voormalige spanmaat en huidige afrigter van die Titans, Mark Boucher, kan wees.

Tog is daar diegene wat al vantevore gemor het dat Boucher nie oor genoeg boekekennis beskik om ’n suksesvolle afrigter te wees nie.

Dr. Jacques Faul is KSA se tydelike uitvoerende hoof. Beter nadat Thabang Moroe geskors is. Foto: Twitter.

Die 43-jarige Protea-breker is egter ’n veteraan van 147 internasionale toetse. Sy 532 vangskote en 23 stonkkanse agter die paaltjies is ’n wêreldrekord en dit sal nie sommer in toetskrieket verbeter word nie.

Hy is gewild onder ondersteuners en voormalige spelers soos Kevin Pietersen het al gesê Boucher is die beste kandidaat om die Proteas reg te ruk. Daar is selfs gerugte dat Jacques Kallis deel van die opset kan word.

Volgens berigte kan Enoch Nkwe – wat saam met die Proteas op hul rampspoedige toer na Indië was – Boucher se assistent wees.

Hoewel die veglustige voormalige paaltjiewagter se aanstelling waarskynlik met ope arms verwelkom sal word, is KSA se borge steeds ongelukkig met die stand van krieketsake in Suid-Afrika.

Momentum is die jongste borg om hul misnoeë te kenne te gee. Vroeër het Standard Bank aangedui dat hulle nie hul borgskap sal hernieu nie.

Momentum is tans die borg van eendagkrieket in Suid-Afrika en hulle het gister in ’n verklaring die koppe van Chris Nenzani (KSA se president) en Beresford Williams (KSA se visepresident) geëis.

“Ons het spesifieke vereistes aan KSA gestel om hul huis in orde te kry. Indien hulle nie daarop reageer nie, sal Momentum hul borgskap aan die einde van die huidige seisoen heroorweeg,” het die verklaring gelui.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Dubbelloop ·

Gee Boucher n kans saam met Greame Smith, why not. Beters as wat ons nou het. Daar mag dalk beter wees maar wat as hulle nie belangstel nie. Raak net ontslae vd huidige kaptein, die kapteinskap. Vat dit weg van hom af. Maak Markram kaptein en gee hom genoeg ondersteuning. Hy is dalk bietjie van stryk af met die kolf maar bly n goeie talentvolle speler.

André André ·

Dit lyk my Rassie se resultate het die weg gebaan en het die minister van sport se oë dalk nou op skrefies begin oopgaan, uiteindelik, hopelik sal dit nie lank vat voor dit hééltemal oop is nie. Laat die res van die kabinet dan notisie neem!

Laat Graeme en Mark hulle wys wat hulle met die Proteas kan vermag.

Ag Ja! ·

Nie genoeg boekekennis nie! Dit is die probleem in ons land. Dit is hoekom sport oral agteruit gaan omdat jare se praktiese ondervinding konsuis ou skool is. Boekekennis het sy plek, maar praktiese onderving in jare kan nie vervang word met die boek nie. Moet hy nou volgens die boek afrig en laat speel? Dit gewoonlik mense wat niks weet nie wat sulke nonsens kwytraak.

Jan ·

Wonder hoeveel boekekennis het laaste afrigter gehad, dus tyd dat borge n groter se kry oor spanne, want hulle name is gekoppel daaraan, haal net politiek uit alle sport en stel die regte persoon, afrigter, bestuur aan en spanne sal presteer

Gert Retire@Midstream ·

Kan net beter gaan met alle sport waneer passievolle kundiges plek gegun word om kwaliteite beskikbaar te stel. Hel mense ons het die mense, gebruik hulle.

Gemaskerde Sopbeen ·

Dit verbaas nog altyd dat AL die top poste in verskeie sportsoorte deur “Nuwe Suid Afrikaners” gevul is……..maar die suksesvolle swart besighede bly maar weg as dit by borgskappe kom…Of wat sien ek nie raak nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.