Bouers onder puin begrawe toe muur omval

(Foto: SAPS/Facebook)

Een bouer is Maandag dood nadat ʼn muur omgetuimel en op hom geval het. Vier ander bouers het ook onder die muur beland, maar het die beproewing oorleef.

Die bouers was glo besig met opknappingswerk by ʼn huis in La Lucia, KwaZulu-Natal, ten tyde van die ongeluk.

Volgens die polisie in Durban‑Noord het ʼn ysterbalk wat die bouers besig was om te installeer neergestort, wat veroorsaak het dat die baksteenmuur ook omgetuimel het.

Die polisie se soek-en-reddingspan, die honde‑eenheid, brandweer en paramedici is na die huis ontbied waar hulle die beseerdes onder ʼn hoop bakstene aangetref het.

Nooddienste het daarin geslaag om vier van die bouers onder die puin uit te haal en vir matige tot ernstige beserings te behandel.

“Die bouers is op die toneel gestabiliseer voordat hulle deur verskeie ambulanse na plaaslike hospitale geneem is,” sê die polisie.

Die polisie, asook IPSS Medical Rescue se honde‑eenheid, het voortgegaan om die puin te deursoek vir die vyfde bouer. Hy het egter noodlottige beserings opgedoen en is op die toneel dood verklaar.

“Die bouer se liggaam is uit die puin gehaal en aan die polisie oorhandig. Die polisie het intussen ʼn geregtelike doodsondersoek van stapel gestuur.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Swerwer ·

Was Health & Safety file in plek? Het Dept Arbeid al inspeksie gaan uitvoer?

Hennie ·

Die health and safety file wat almal altyd soek sou nie die ongeluk voorkom het nie, slegs n task spesifieke Risk Assessment, as dit reg uit gevoer was, maar dan moes daar n opgeleide persoon teenwoordig gewees het om die ligging en werk/raak te beoordeel, klein bouers kan nie so n voltydse persoon bekostig nie, so dit maak dit baie moeilik

Shakespeare ·

Die eienaar gaan seker aangekla word vir moord maak nie saak hoe onbevoeg die bouers was nie.

Julius ·

Die middelste steunpilaar is verwyder om die balk in te sit en die gewig van die boonste deel het meegegee omdat daar nie meer ondersteuning was nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.