Boulers sal wedstryd vir Proteas moet wen

Kagiso Rabada tydens ‘n wedstryd verlede jaar. (Foto: Prakash Singh/AFP)

Die Proteas het ʼn voorsprong van 211 lopies nadat hulle Nieu-Seeland vir 293 uitgeboul het.

Die probleem is dat hulle net vyf paaltjies staande het in hulle tweede kolfbeurt. Daar is ook nog twee dae se spel oor en geen reën word vir Christchurch voorspel nie.

Die hoogtepunt van die dag uit ʼn plaaslike ondersteuner se oogpunt was Colin de Grandhomme se 120 onoorwonne lopies. Hy het die kastaiings uit die vuur gekrap vir die Swart Pette nadat hulle op 91/5 gewankel het.

Vir die Suid-Afrikaners het Kagiso Rabada (5/60) weer uitgeblink en vyf paaltjies platgetrek. Die jong Marco Jansen (4/98) het ook gewys waarom hy so hoog aangeslaan word.

Ná Sarel Erwee (8) se honderdtal in die eerste beurt was hy in die tweede beurt die eerste Suid-Afrikaanse kolwer terug in die kleedkamer. Kaptein Dean Elgar (13) en Aidan Markram (14) het ook nie veel weerstand gebied nie en die tuisspan was stert in die lug met die besoekers op 38/3.

Rassie van der Dussen (45) en Temba Bavuma (23) het ʼn vennootskap van 65 lopies gebou om die skip weer op koers te kry, maar is toe kort na mekaar uit. Paaltjiewagter Kyle Verreynne (22) en Wiaan Mulder (10) sal môre voortkolf met Suid-Afrika op 140/5.

Die vraag is hoe groot moet ʼn veilige voorsprong wees wat die Suid-Afrikaanse boulers genoeg kans gaan gee vir ʼn oorwinning. Die Proteas het in die eerste toets ʼn behoorlike drag slae gekry en kan vergoed met ʼn oorwinning om die reeks gelykop te laat eindig.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jr ·

Rabada is uitstekende bouler in 5 dae toetse. MAAR glad nie in 50 overs, too erratic en te duur

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.