
Groot skade is aangerig tydens ‘n brand by die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg (April 2021) (Foto: Twitter)
Die verwagte datum waarop die Charlotte Maxeke-hospitaal se ongevalle-eenheid weer oopgestel word, is nou na middel April verskuif. Herstel- en opknappingswerk aan die res van die gebou sal egter eers teen November vanjaar voltooi wees. Só het die minister van gesondheid, dr. Joe Phaahla, Vrydag in ʼn verklaring gesê. Hy het dié hospitaal Maandag besoek.
Die hospitaal sou maande gelede reeds oopgestel word, nadat dit erg beskadig is in ʼn brand in April 2021.
Die nasionale én provinsiale departemente van gesondheid het in die verklaring erken dat daar ʼn paar onnodige vertragings met die projek was, wat negatiewe gevolge vir die hele gesondheidstelsel in die provinsie gehad het. Volgens Phaahla is die projek aan die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika oorhandig, wat die herstel en opknapping van die hospitaal nou met geld vanaf die tesourie, Gift of the Givers en die Solidarity-fonds moet bestuur.
Luidens die verklaring word blokke een tot agt van die hospitaal tans deeglik skoongemaak, nadat tegnologiese gesondheidstoerusting, elektroniese brandverklikkers en ander brandbestrydingstoerusting hier geïnstalleer is.
Blok een sal na verwagting reeds binne die volgende week oopgestel word, blok twee in Julie, blok drie in Oktober en blok vier en vyf sal eers in November weer oop wees. Die minister voorspel die hele projek sal amper twee jaar neem om af te handel.
Druk op Helen Joseph
Wat die nabygeleë Helen Joseph-hospitaal betref, het die minister gesê hy is bewus van bykomende druk wat die sluiting van die Charlotte Maxeke-hospitaal op dié hospitaal geplaas het, veral wat die behandeling van psigiatriese pasiënte betref.
Maroela Media het vroeër berig ʼn gesondheidskrisis dreig by dié hospitaal weens ʼn gebrek aan hulpbronne en personeel om die toenemende getal pasiënte in die ongevalle-eenheid te behandel. Talle mediese personeel is boonop die afgelope week deur pisgiatriese pasiënte in dié hospitaal aangeval.
“Die Helen Joseph-hospitaal het meer beddens vir psigiatriese pasiënte beskikbaar gestel en maak ook nou gebruik van ʼn tydelike struktuur om hierdie pasiënte te huisves. Dit blyk egter nie genoeg te wees nie,” het Phaahla gesê.
Die minister is ook bewus daarvan dat baie families nie bereid is om psigiatriese pasiënte weer in te neem nadat hulle ontslaan is nie, en het ʼn beroep op lede van die publiek gedoen om saam met hospitale te werk en hul familielede weer in te neem, ten einde meer beddens in gesondheidsentrums oop te stel.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
2 Kommentare
Dit gaan hulle 2 jaar vat im alles af te handel!!! Solidariteit bou ‘n hele nuwe unuversiteit in minder as ‘n jaar, volledig, en nog onder begroting!! Nou hoe nou???
Wat ‘n grap! Kyk net ‘n vuil is die plek.. Nee man.