Bozwana-moord: ‘Moordenaars’ beweer hulle is gemartel

Die motor waarin Wandile Bozwana geskiet is. Foto: SAPD

Die motor waarin Wandile Bozwana geskiet is. Foto: SAPD

Die twee mans wat van die moord op ʼn bekende sakeman van Noordwes, Wandile Bozwana, beskuldig word, het Woensdag in die hof beweer hulle is gemartel om skuld te beken.

Sipho Dludla en Matamela Motapa, wat tussen 30 en 40 jaar oud is, staan tereg op verskeie aanklagte, waaronder moord, poging tot moord, die besit van ʼn gesteelde voertuig, oortreding van die Wet op Elektroniese Kommunikasie en die onwettige besit van ammunisie.

Dludla en Motapa het Woensdag vir die tweede keer voor landdros Magowanbal Naidoo in die Pretoria-landdroshof verskyn.

Adv. Victor Nkhwashi, hul regsverteenwoordiger, het hul verklarings aan die hof voorgelees en gesê die twee is aangerand, versmoor en gedwing om skulderkenningsvorms te teken toe hulle in hegtenis geneem is.

“Die beskuldigdes het tydens konsultasie gesê hulle is gemartel en gedwing om skuld te beken. Hulle wil dit op rekord plaas dat die skulderkenning nie vry en vrywillig gedoen is nie,” het Nkhwashi gesê.

“Hulle het my meegedeel hulle is aangerand en hul gesigte is met ʼn buis bedek wat hulle versmoor het, totdat hulle bereid was om die nodige vorms te onderteken. Hulle het ook gesê hulle is gedwing om teen hul wil tonele te gaan uitwys en foto’s is by die tonele geneem.”

Die staat het aangebied om die twee vir mediese sorg te stuur, maar hulle het dit van die hand gewys omdat hul beserings reeds herstel het.

Die beskuldigdes het aangedui hulle wil nie om borgtog aansoek doen nie en is tevrede om tot 17 Februarie in aanhouding te bly, wanneer hulle weer in die hof moet verskyn.

Bozwana is op 2 Oktober in Garsfontein in die ooste van Pretoria doodgeskiet. Daar is op die passasiersdeur van die motor geskiet waar hy gesit het. Hy is nege keer getref. Hy het later in die hospitaal aan sy beserings beswyk.

Hy en ʼn kollega, Mpho Baloyi, het op die N1 noord van Johannesburg gery toe die aanvallers in ʼn silwerkleurige BMW M3 glo by die Garsfontein-afrit langs hulle ingetrek en op die Renault Clio waarin hulle was, losgebrand het. Altesaam 12 skote is op die motor gevuur. Baloyi, wat die motor bestuur het, is twee keer getref. Sy kon tot by ʼn nabygeleë motorhandelaar ry vir hulp. Die beskuldigdes is kort daarna in hegtenis geneem.

Lees alle vorige berigte oor Wandile Bozwana op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

tambotie ·

Leef uit misdaad, en sterf deur misdaad. kolskoot vir blindesambok. lees twee jaar terug se eerste berig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.