Bozwana-saak uitgestel

Die motor waarin Wandile Bozwana geskiet is. Foto: SAPD

Die motor waarin Wandile Bozwana geskiet is. Foto: SAPD

Die saak teen twee mans wat van die moord op ʼn bekende sakeman van Noordwes, Wandile Bozwana, beskuldig word, is Vrydag in die landdroshof in Pretoria uitgestel tot Desember.

Die twee verdagtes, tussen 30 en 40 jaar oud, het Vrydag vlugtig voor landdros Magowanbal Naidoo verskyn. Hulle staan tereg op verskeie aanklagte waaronder moord, poging tot moord, die besit van ʼn gesteelde voertuig, oortreding van die Wet op Elektroniese Kommunikasie en die onwettige besit van ammunisie.

Volgens die klagstaat wat hoofstaatsaanklaer Matric Luphondo voorgehou het, word die twee beskuldig van ʼn “skedule 6”-misdryf.

Die staatsaanklaer het versoek dat die saak tot 9 Desember uitgestel word vir verdere ondersoek. Alhoewel die versoek nie deur die verdediging teengestaan is nie, het prokureur Simon Sinosi versoek dat hulle die hof vroeër kan nader vir ʼn aansoek om borgtog.

“In hierdie stadium duur die ondersoek voort en die uitkenningsparade moet ook nog gehou word,” het Sinosi tydens ʼn onderhoud buite die hof gesê. “Ons is gevolglik in hierdie stadium nog nie gereed om aansoek te doen om borgtog nie, en daarom staan ons nie die versoek om uitstel teen nie.”

Die media mag nie die identiteit van die twee verdagtes bekend maak voor die uitkenningsparade plaasgevind het nie.

Die polisie se provinsiale ondersoekeenheid werk onverpoosd sedert die misdaad in Oktober plaasgevind het en die twee verdagtes Donderdag in Johannesburg aangekeer is.

Die polisie het tydens die inhegtenisneming beslag gelê op ammunisie en ʼn toestel wat selfoonseine versteur.

Die ondersoek duur voort en die polisie vermoed dat nog persone met die moord verbind kan word.

Die Noordwes-sakeforum, wat ʼn beloning van R2 miljoen uitgeloof het vir enige inligting wat kan lei tot die suksesvolle vervolging van die oortreders, het gesê alhoewel hulle verwag dat hoëprofielpersone betrokke is, is hulle tevrede met die vordering wat die polisie tot dusver gemaak het.

Sello Mogodiri, ʼn voormalige munisipale bestuurder van Mahikeng en woordvoerder vir die forum, het gesê hulle wil hê dat geregtigheid moet geskied en hulle wil graag weet wie was die meesterbrein en wat was die motief. Die forum hou vol dit was ʼn sluipmoord.

Bozwana is op 2 Oktober in Garsfontein in die ooste van Pretoria doodgeskiet. Daar is op die passasiersdeur van die motor geskiet waar hy gesit het. Hy is nege keer getref. Hy het later in die hospitaal aan sy beserings beswyk.

Bozwana en ʼn kollega, Mpho Baloyi, het op die N1 noord van Johannesburg gery toe die aanvallers in ʼn silwerkleurige BMW M3 glo by die Garsfontein-afrit langs hulle ingetrek en op die Renault Clio losgebrand het.

Altesaam 12 skote is op die motor gevuur. Baloyi, wat die motor bestuur het, is twee keer getref. Hy kon tot by ʼn nabygeleë motorhandelaar ry vir hulp.

Lees alle vorige berigte oor Wandile Bozwana op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dee ·

re ‘suksesvolle vervolging van die oortreders’.
Verdomp, winkeldiewe is ook oortreders maar in die berig word gepraat van moordenaars. Moet nie dinge soos dit afwater nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.