Brackenfell-optog: Kalmte gevra; polisie gereed

Geweld het tydens ‘n vroeëre betoging buite die Hoërskool Brackenfell in Kaapstad uitgebreek. (Foto: ANA)

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het bevestig dat hy enige bedreiging wat moontlik kan ontstaan as gevolg van die EFF se beplande protesaksie Vrydag in Brackenfell, sal kan bedwing.

Die stad Kaapstad het Donderdagoggend ’n dringende vergadering met die SAPD en ander wetstoepassingsagentskappe gehou oor kommer dat die EFF se protesaksie met geweld en intimidasie gepaard kan gaan.

Gegewe hierdie bevestiging deur die SAPD dat enige bedreigings bedwing sal kan word, is daar volgens die stad geen wetlike basis om die optog te verbied nie. Indien enige voorwaardes deur die EFF verontagsaam word, insluitend die Covid-19-regulasies, moet die SAPD egter optree, wat moontlik strafregtelike optrede kan insluit.

Die Wes-Kaapse hooggeregshof het ’n dringende interdik teen die betoging van die hand gewys, met regter Siraj Desai wat die EFF se verbintenis dat daar geen geweld of ontwrigting sal wees nie, aanvaar het.

Volgens die stad het die SAPD hom daartoe verbind om Vrydag ’n streng polisieteenwoordigheid in Brackenfell te handhaaf. Die metropolisie, verkeersbeamptes, gemeenskapspolisiëringsforums en buurtwagte sal ook betrokke wees. Die protesaksie sal ook opgeneem word sodat enigiemand wat die wet oortree, vervolg kan word.

Die stad het die publiek gevra om die gebied te vermy ten einde dit vir die polisie makliker te maak om die protesaksie te beheer.

Mense raak slaags buite die Hoërskool Brackenfell in Kaapstad. (Foto: ANA)

Die Menseregtekommissie (MRK) het ’n beroep op kalmte gedoen en gesê hy sal die gebeure monitor. Gushwell Brooks, MRK-woordvoerder, het gesê die kommissie versoek almal wat beplan om Vrydag op die skool toe te sak, om in die beste belang van die leerders by die skool op te tree en hul reg op onderrig te respekteer.

“Die kommissie is by talle ondersoeke betrokke rakende onlangse bewerings oor die skool. Ons doen ’n beroep op alle belanghebbendes om kans te gee dat die kommissie die feite onder die loep neem en sy bevindings maak en voorskrifte of aanbevelings uitreik.”

Die MRK ondersoek onder meer die private funksie wat aanvanklik tot die herrie gelei het sowel as verdere bewerings van rassisme by die skool. Daar is ook talle haatspraakklagtes ontvang waarna die kommissie kyk.

John Steenhuisen, DA-leier, het gesê sy party het alles in sy vermoë en binne die wet gedoen om te verhoed dat die EFF se protesaksie Vrydag plaasvind.

“Dit sal nie die laaste keer wees dat die EFF iets sal uitdink wat slegs ten doel het om ons land te verdeel op grond van doelbewuste anargie, rassisme en haat nie, en die SAPD en wetstoepassingsagentskappe moenie naïef wees oor wat in ons land afspeel nie.”

Mense raak verlede week slaags buite die Hoërskool Brackenfell in Kaapstad. (Foto: ANA)

Volgens Steenhuisen is dit nog nie vasgestel dat die private funksie uitsluitend was nie, maar is dit duidelik dat feite die EFF nie skeel nie.

Optogte soos dié wat die EFF vir Vrydag beplan, is ʼn totale minagting van die grondwetlike regte van wetsgehoorsame mense wat nie daarmee vereenselwig nie.

Dr. Corné Mulder, VF Plus-hoofsweep en provinsiale leier in die Wes-Kaap, sê dit is kommerwekkend dat die EFF reeds deur ʼn amptelike party-twiet gedreig het om Brackenfell “tot stilstand te bring” en sal toesien dat “niks daar werk nie” en dat hulle sal optree teen enigiemand wat in hul pad staan.

“Wat nou by Brackenfell gebeur, herinner aan die ontwrigting wat plaasgevind het met EFF-protesoptredes by die Hoërskool Overvaal enkele jare gelede.

“Die VF Plus het toe ʼn privaatlid-wetsontwerp indien met die doel om protesoptredes wat enige ontwrigting naby ʼn skool mag veroorsaak, te verbied.

“Dit het nie geslaag nie, en die party sal die moontlikheid ondersoek om weer so ʼn wetsontwerp in te dien aangesien dit totaal onbegryplik en onaanvaarbaar is dat enige protesoptrede by ʼn skool toegelaat word, veral in eksamentyd.”

Mulder meen dit is ook moeilik om in te sien hoe ʼn hof kan voorsien dat enige protesoptrede van die EFF, wat ʼn bewese rekord van geweld het, vreedsaam sal wees.

“Die owerhede het nou ʼn beroep op die publiek gedoen om die omgewing van die Hoërskool Brackenfell te vermy waar die optog sal plaasvind. Die VF Plus wil hierby aansluit. Indien die EFF by ʼn verlate skool in ʼn verlate straat opdaag, sal dit die rooi ballon prik. Konfrontasie is presies wat dié mense wil hê. Daarsonder word hul suurstof weggeneem.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Persheks Adri ·

Met Cele en Mal-emma wat lekker in die hof saam gesit het in Senekal? Ons glo julle hoor pffft. Al wat die minions kan doen is moeilikheid maak en verstaan nie hoe om beskaafde gedrag te handhaaf nie! Ek gaan my nie eers uit laat oor MRK nie julle weet wat ons van hulle ook dink tsssk

Sarel ·

En die Regter glo die EFF.
Masr ja sou iets gebeur gasn dit nstuurlik nue hulle wees nie maar meelopers

Tanja ·

Ek stem saam Dr Mulder, daar moet ń wet wees wat protesoptredes voor/naby skole verbied

Andrew ·

Ek hoop die skool laat die kinders skryf in n ander lokaal van kampus af, soos een van die kerk sale of soortgelyks. Dan wil hulle die dorp tot stilstand bring, lekker almal werk van die huis af vandag soos die laaste 8 maande. In SA moet enige “lost time” agv strike net soos “sick leave” hanteer word. Maatskappye moet dan die betogers hof toe vat oor bedoelde sabotasie of so iets.

Werner ·

Het nuus vir die DA dit is nie net die EFF wat anargie soek nie die ANC soek dit ook.

Annelize ·

Die EFF doen die ANC se vuil werk, terwyl die ANC hulle self besig hou met mooi broodjies bak, window dressing en korrupsie.

Dis hoekom die EFF kan maak en breek soos hulle wil en niks oorkom nie.

Jana ·

Dit is soos Mulder sê, konfrontasie is hierdie mense se suurstof en hulle wil mense uitlok tot konflik. Hulle stel nie belang in die feite nie, so kom ons ontneem hulle van die suurstof en reageer nie wanneer hulle mens probeer uitlok nie. Hulle gaan dan ontbloot word vir die moeilikheidmakers wat hulle is. Ons kan nie baklei soos hulle nie, anders is ons net soos hulle. Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie. Ons moet harder bid vir ons land en veg in gebed eerder as in die vlees.

Nozi ·

Kom ek wed jul dat as daar vandag enige konfrontasie is tussen die eff e die gemeenskap gaan dit die gemeenskap wees was in hegtenis geneem gaan word. Die eff is mos altyd onskuldig met hul “vreedsame” betogings.

Derek ·

Dit is net sekere groeperinge wat regte het in terme van die grondwet volgens die hof uitspraak. Die leerlinge en hul ouers het geen regte nie, nie eens die reg van die vryheid van assosiasie of geloof nie. Wat n skande is ons howe en regstelsel, al is die polisie gereed, net nog n vermorsing van belasting betalers se geld.

Wilma ·

Daar is weer iets aan die gang, ons aandag word af getrek met die EFF se optrede. Gaan kyk maar elke keer as daar iets onderlangs broei wat ons die landsburgers nie regtig moet van weet nie, maar dit kan nie heeltemal stil gehou word nie, dan kom die rooi mannetjies uit en maak ammok. Almal is dan so ingestel op wat hulle doen, hulle vergeet om aandag aan die ander dinge te gee. Kyk nie lank terug was dit die Shampoe ding. Nou dit!!!

Stefaan ·

Die publiek (ouers) moet die omgewing vermy. Dream on. Ons weet wat gaan gebeur. Dit is net jammer dat die hof dit nie wil insien nie.

Connie ·

Regtig regter Siraj Desai, en jy glo die eff, of julle braai saam.

Andre ·

Verwag hulle regtig dat ouers moet wegbly en hul kinders se lot oorlaat aan anargiste en “observers”?
Ek sou my kinders beskerm met alles wat ek het.

Dup ·

Waarom betoog hierdie narre nie voor die parlement of Uniegebou nie waar hulle korrupte vriende,familie en kaders wegkruip nie? Die res van die eerlike en hardwerkende landsburgers kan dan aangaan met hulle daaglikse lewens.

Lee ·

Hierdie hele gemors is belaglik, daar is geen rede vir EFF om protes aksie te loots nie, die mentaliteit wat ons hier mee te doen het is n baie groot probleem in SA

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.