Brakkie herstel ná hy self hulp by DBV soek

Rio het verlede maand sélf by die Cape of Good Hope-dierebeskermingsvereniging gaan hulp soek vir sy beserings. (Foto: Facebook)

ʼn Beseerde hond wat verlede maand sélf by die Cape of Good Hope-dierebeskermingsvereniging gaan hulp soek het, het intussen volkome herstel. Dié dapper brakkie, wat Rio heet, is nou vir aanneming beskikbaar.

Rio se verhaal het nie net talle hartsnare aangeroer nadat die DBV sy storie vroeër die maand op sosiale media gedeel het nie, maar ook opnuut ʼn debat oor mikroskyfies in diere aangewakker.

Rio het in Januarie stoksielalleen by die DBV opgedaag met smetterige bytmerke aan sy nek.

Belinda Abraham, woordvoerder van die DBV, sê die wonde was geensins behandel nie en dat daar geen manier was om te bepaal aan wie Rio behoort nie.

Hy is nou sowat drie jaar oud.

Die DBV het gevolglik ’n #DontLoseYourLove-veldtog van stapel gestuur om mense opnuut aan te moedig om mikroskyfies in hul troeteldiere te laat inplant. Meer as 40 mense het sedertdien by die organisasie aangemeld om hul troeteldiere van mikroskyfies te voorsien.

Volgens die DBV het 90% van alle diere wat by dié organisasie beland geen vorm van identifikasie nie, wat dit uiters moeilik maak om troeteldiere weer met hul geliefdes te herenig. Die Cape of Good Hope-DBV neem boonop elke maand sowat 100 troeteldiere in, wat beteken dat hulle jaarliks meer as 1 200 diere huisves en behandel.

Dit is nie duidelik hoe Rio geweet het dat hy daar hulp sou ontvang nie of wat sy omstandighede voorheen was nie. Dit is ook nie duidelik hoe lank hy al op straat was en of hy voorheen ʼn huis gehad het nie.

Nicole Nel, ʼn dieregedragkenner, het in ʼn onderhoud met die DBV gesê dis moontlik dat bekende reuke en klanke – soos honde wat blaf en die gebied merk – Rio na die DBV gelok het.

Hoewel hy infeksie weens sy beserings opgedoen het, het hy danksy die behandeling wat hy van die DBV se mediese afdeling ontvang het, volkome herstel. Hy het ook sy kliniese en gedragsevaluerings geslaag.

In ʼn video waarin Nel met Rio werk, sê sy dat die vierpotige reeds weet hoe om te sit en sy bederfhappies saggies te vat. Dit blyk ook dat hy gewoond is aan mense.

Abraham sê al letsels wat op die oomblik nog blywend is, is dié wat die oog nie kan sien nie.

“Rio was aanvanklik baie skaam en menssku, maar hy klim elke dag meer en meer uit sy dop.

“Hy sal regtig ’n aanwins vir enige gesin wees.”

Daar is op die oomblik 60 diere by dié DBV wat vir aanneming beskikbaar is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

SlinkseKoljander ·

Hy is beslis slimmer as meeste van ons ministers

Swerwer ·

Liefde van self, en sal sy nuwe gesin met sy lewe beskerm, staan in daardie 2 ogies geskryf. “Tot Rio weet om nie by die ANC vir Hulp aan te klop nie.”

Sandra ·

Ek hoop Rio kry ‘n goeie huis na dese. Hy het seker ‘n huis gehad, en sy mense het hom seker nie na hom laat omsien na ‘n ander hond hom gebyt het nie. As ‘n hond lief is vir iemand, sal hy seker daar gebly het of probeer teruggaan het. Ek is bly hy is beter

Karina ·

Dit is kosbaar hoe Rio homself by DBV aangemeld het. Slim honne daardie. Dankie ook aan jul organisasie wat hulp verleen aan diere. Ons waardeer dit baie. Ek is seker Rio sal gou ‘n liefdevolle permanent huis vind.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.