Brakkie ná dae van krans gered

Die hond is in ʼn harnas geplaas, tot by ʼn wagtende reddingsboot laat sak en na veiligheid geneem. (Foto: Facebook / Medi Response)

ʼn Hond wat sowat vier dae lank op ʼn lysie van ʼn krans in die Reservoir Hills-omgewing in Durban vasgekeer was, is Woensdag deur nooddienswerkers gered.

Die redding was ʼn gesamentlike poging deur Medi Response se soek-en-reddingseenheid, die noodsorgdepartement by die Durban Universiteit vir Tegnologie (DUT), die SAPD en die metropolisie.

Die hond was op ʼn lysie van die krans vasgekeer en kon nêrens heen ontsnap nie. (Foto: Facebook / Medi Response)

Luidens ʼn inskrywing op Medi Response se Facebook-blad het reddingswerkers reeds Dinsdag laatmiddag probeer om die hond te red. Die reddingspoging moes egter laat vaar word weens beperkte toegang en omdat dit donker geword het.

ʼn Hommeltuig is Woensdagoggend vir visualisering ontplooi om spanne te help om ʼn veilige roete te vind waar reddingswerkers met ʼn tou tot by die hond afgesak kon laat word.

Die hond was op ʼn lysie van die krans vasgekeer en kon nêrens heen ontsnap nie. (Foto: Facebook / Medi Response)

Die hond is in ʼn harnas geplaas, tot by ʼn wagtende reddingsboot laat sak en na veiligheid geneem.

Medi Response het aangedui dat die hond vandaar vir verdere waarneming en versorging geneem sal word.

Dit is nie duidelik hoe die hond daar beland het of waar die brakkie tans aansterk nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Sandra ·

Haai jinne dit lyk soos ‘n rondloperbrak. Hy is dan so maer. Ek hoop hy kry na dese ‘n goeie liefdevolle huis, met baie kossies.

Swerwer ·

Dankie vir die omgee en liefde vir die viervoetige kindjie.
Baie dankie aan almal wat deel was van die redding.

Cherokee ·

Tensy die hond lid is van ‘n bergklimspan, is dit onduidelik hoe dit daar kon beland het. Dink aan die verligting in die honde gemoed!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.