Brakkie vlug ná aanval, weer veilig tuis

Renske Miessner en Cody, wat na vyf dae ongedeerd by die huis opgedaag het.

“Toe ek by die huis stilhou, het ek ʼn blaf gehoor wat ek ken. Maar toe dink ek nee, dit kan nie wees nie en ek wil nie verniet hoop nie. Toe my ma egter die deur oopmaak en daai klein, bruin lyfie hol, het ek net begin huil …”

Só vertel ʼn oorstelpte Renske Miessner nadat haar miniatuurworshond, Cody, ná vyf dae feitlik ongedeerd by haar ouerhuis op ʼn kleinhoewe in Kameeldrif-Wes opgedaag het.

Klein Cody het die hasepad gekies nadat Miessner se ouers, Hannes (80) en Emmerentia Botha (57), Sondagaand in hul huis op die kleinhoewe oorval is. Die egpaar het in die omgewing by familie gekuier en met hul aankoms tuis het Emmerentia haar honde verwoed hoor blaf.

In die huis het ʼn vreemde man haar aan die bors gegryp en teen ʼn muur vasgedruk terwyl hy haar oor die kop en hande met ʼn stok geslaan het. Emmerentia het die man bestorm, terwyl Hannes intussen ook die huis binnegekom het.

Hy het besef iets is nie pluis nie en is na die kluis om sy vuurwapen te kry. In dié tyd het ʼn rower uit die huis gevlug en saam met nog ʼn man wat buite gewag het, in die egpaar se bakkie gespring en weggejaag.

Hannes en Emmerentia Botha.

Die egpaar het ʼn noodoproep uitgestuur en die bakkie is later in Laudium opgespoor. ʼn Skietgeveg tussen die verdagtes en die polisie het ontstaan. Een van die vermeende rowers is gewond, terwyl sy makker ontsnap het.

Miessner se hondjie, wat by die egpaar gekuier het, het in die harwar egter spoorloos verdwyn en hulle het die afgelope ruk vergeefs na hom geroep en gesoek. Vyf dae lank was daar geen teken van hom nie – tot een van Emmerentia se honde haar Vrydag in die vroeë ure wakker geblaf het. Hunter, ʼn Jack Russell, het by Emmerentia op die bed gespring om haar aandag te trek.

“My ma het haar lam geskrik en gedink daar is dalk weer iemand by die huis. Sy het na buite gaan uitkyk en daar staan Cody by die deur en tjank. Hunter het hom gehoor en alarm gemaak,” vertel sy.

Cody was bitter dors en baie honger. Nadat hy hom trommeldik geëet het, het hy hom in sy bed opgekrul en geslaap.

Miessner sê sy pote was glad nie stukkend nie en hy het geen ander ooglopende beserings gehad nie. Hulle vermoed hy het die afgelope paar dae in die veld naby die huis geskuil en toe op eie stoom teruggekeer huis toe.

Miessner sê Cody was nog altyd effe senuweeagtig en nie heeltemal so uitbundig soos die ander honde nie, en dit gaan hom waarskynlik ʼn rukkie neem om te besef hy is weer veilig.

Cody is weer tuilig tuis en ongedeerd.

Die brakkie het die afgelope paar dae heelwat gewig verloor, maar het vanoggend darem weer saam met die ander honde begin blaf en hardloop.

Miessner sê Hannes en Emmerentia is ook op die herstelpad.

Hannes het genadiglik betreklik lig van die aanval afgekom en Emmerentia se beserings herstel goed.

“My ma se kop is nog effens gevoelig, want dit het die eerste houe gekry, en die swelling op haar hande het begin sak. Fisiek gaan dit beter met albei en hulle ondergaan traumabehandeling.

“My ma raak egter effens paniekerig wanneer die son begin sak. Sy sê sy wil nie hê dit moet aand word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Francois Le Cochon ·

Ek sal hierdie storie oordra aan ons miniatuur worsie!

Helene ·

Sjoe bly Cody is veilig terug en dat dit ok gaan met almal.

Willem ·

Ek hoop Hannes het ‘n lessie hieruit geleer!? ‘n Vuurwapen in die kluis beteken net mooi niks! Ek wens uit die diepte van my hart dat mense kan wakker word en besef ons is in ‘n oorlogsituasie gewikkel!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.