Brakpan-gesinstragedie: ‘Maak sommige lewens meer saak as ander?’

Shereé, Simeon en Lee-Ann Schwartz. (Foto: Facebook)

“Is hulle dan net nóg ʼn ma en haar drie kinders wat in hulle huis doodgemaak is?”

Só het ʼn verslae Linda Hamer vandeesweek gesê meer as ʼn jaar nadat haar suster en dié se kinders in hul huis in Brakpan vermoor is en die polisie steeds nie hond haaraf kon maak in die saak nie.

Sandra Schwartz (39) en haar kinders, Shereé (19), Lee-Ann (16) en Simeon (10), is in Julie verlede jaar vermoor.

“Daar word ʼn groot ophef gemaak van Vrouemaand en Vrouedag en geweld teen vroue en kinders. Dan gebeur só iets met ʼn ma en haar kinders en daar is doodse stilte.”

Die polisie het vroeër gesê Johan Schwartz het sy vrou en hul drie kinders met koeëlwonde van ʼn 9 mm-pistool aangetref. Die polisie is laat die Woensdagmiddag na die huis in Sallies Village ontbied. Die brandweer was reeds op die toneel aangesien die huis ook aan die brand gesteek is.

Die voorval, wat aanvanklik as ʼn gesinstragedie beskou is waarin ʼn ma haar drie kinders doodgeskiet en haarself toe om die lewe gebring het, is later na ʼn saak van moord omgeskakel.

Volgens Hamer was daar sedertdien egter weinig vordering met die ondersoek.

“Ons is baie teleurgesteld. Ons wil afsluiting hê, maar waar gaan ons dit kry? Dis bitter moeilik, maar ons neem alles dag vir dag. Die polisie is nêrens [te sien nie].

“Dit is besig om ons almal onder te kry. Ons gemoed was nog nooit so laag soos wat dit nou is nie. Ons is in ʼn swart gat. Hoe los hulle ʼn saak oor die dood van ʼn ma en drie kinders net nie op nie?”

Sandra Schwartz (Foto: Facebook)

Hamer sê die laaste terugvoer wat hulle van die polisie gekry het, was dat die saakdossier nie opgespoor kon word nie en die ondersoekbeampte afgetree het.

Veel meer weet hulle nie.

“Hoekom is my sussie en haar drie kinders op so ʼn wrede manier doodgemaak en nou is die inligting daaroor net weg? Maak sekere mense se lewe dan meer saak? Dis bitter moeilik. Elke dag is ʼn straf.”

In ʼn stadium het grafiese foto’s van die binnekant van die huis boonop die ronde gedoen en Hamer sê dit het ʼn diep letsel gelaat.

“Ons spook elke dag met dít wat in ons koppe is. Dit is ʼn nagmerrie.”

Volgens haar is daar oënskynlik nie enige buskruit op Sandra se hande gevind nie en daar was glo nog iemand in die huis tydens die voorval. Daar is egter meer vrae as antwoorde oor daardie dag.

Hamer sê ook daar is soms mense wat vra of haar suster dalk vir die moorde verantwoordelik kon wees. Sy glo dit egter glad nie.

“Hoe doen ʼn ma dit? Sandra sou nie ʼn haar op daai kinders se kop skade aangedoen het nie.”

Maroela Media het ʼn navraag oor moontlike vordering met die saak aan die polisie gerig en wag op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Mariana ·

Dit is hartseer en maak mens ook kwaad dat onsinnige moorde van ‘n ma en haar kinders nooit opgelos is nie. Snaaks hoe sekere dossiere net kan verdwyn, maar ongeag die dossier is die moorde steeds gepleeg, maar word nie belangrik genoeg geag om verder te ondersoek nie. Miskien moet daar ‘n organisasie wees nl WLM dan sal iemand dalk ‘n oog knip om ook blanke moorde op te los. Te veel word net onder die mat in te vee en vergeet in hierdie land van kriminele en waar kriminele los loop omdat hulle meer werd is as die onskuldiges.

lollapot ·

Ek kan my nooit die seer en verlange, en die onsekerheid voorstel nie. Linda Hamer, my hart en gebede gaan uit na julle! Jy moet ALTYD onthou, God slaap nie . . .

Albert Willem ·

Baie waar en dis hoekom dit nie eers nuus gehaal het nie

JohanR ·

Nee wat….as die nou ‘n ANC hoe se vrou en drie kinders was….different strokes for different folks…..of is dit different strokes for different colour folks!

Piet ·

Was die “ander” persoon in die huis bekend aan die familie?

Nie Verbaas ·

Wat kan mens van die onbevoegde en nuttelose ANC regering se amptenare verwag? Hulle is te besig met ander dinge.

saggiespraat ·

Ek lees net die storie en weet al klaar wie dit is…. Hulle is regtig baie mooi mensies

Sandra ·

Dankie Maroela Media dat julle die mense bystaan in hulle nood, deur vir die polisie te vra wat aangaan. Miskien gee hulle meer gehoor aan julle versoek. Dit kan mens mal maak as jy nie weet wat gebeur het nie. Hoe op aarde verloor mens so ‘n belangrike dossier. Gaan my verstand te bowe dat so iets in ‘n “professionele instansie” kan gebeur. Gee niemand dan om nie?

TO ·

Ja vra ek ook my seun 12, jaar vermoor, niks gedoen, inteendeel gesê ek kyk te veel tv

Jaco ·

Die slagoffers was wit, so waarom nou nog wonder oor hoekom die saak sloer? Ons anti-wit owerhede se houding is een van “laat die criminals ons ‘help’ om van die gehate wit mense ontslae te raak”

Niklaas ·

Dit wil voorkom asof Blanke lewens nie tel in ons land nie. Een groot aantal gewese SA sport sterre, sal dit bevestig. Papbroeke

christo ·

Dossiere wat verdwyn word alhoemeer die ‘algemeen’ in SA. Iemand is besig om sy spore toer te vee en die SAPD het maar ‘n flou verskoning. Dossiere word in ‘n register in en uitgeteken . Waar is die register, of is die saak maar net nog een van die onafgehandelde sake?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.