Brakpan-leerder doodgesteek in onderonsie

(Argieffoto: Kent Williamson)

Die departement van onderwys in Gauteng het die voorval veroordeel waarin ʼn gr. 10-leerder aan ʼn skool in Brakpan aan ʼn steekwond beswyk het.

Volgens Steve Mabona, woordvoerder van die departement, is die gr. 10-leerder van Geluksdal Sekondêre Skool Donderdag na skoolure doodgesteek. Daar word beweer dat sy dood voortgespruit het uit ʼn bakleiery.

“Volgens inligting het drie gr. 10-leerders ander leerders met pepersproei bygekom tydens skoolure. Agt ander leerders het die seuns oor hul gedrag gekonfronteer en hulle het daarmee opgehou,” sê Mabona.

“Daar word egter beweer dat ʼn onderonsie tussen hierdie leerders (die vermeende oortreders) ná skool in die geselskap van onbekende persone wat nie van die skool is nie, met die leerders wat ontevrede was oor hul gedrag uitgebreek het. Die vermeende oortreders het die ander leerders begin steek en een van die leerders is in die proses noodlottig gewond.”

Een van die ander leerders het met ligte beserings weggekom, terwyl een van die vermeende oortreders ook ernstig beseer is. Albei is per ambulans na die Pholosong-hospitaal geneem.

Die polisie is na die toneel ontbied en ondersoek die omstandighede rondom die voorval.

Die departement het beradingsdienste vir die betrokke leerders gereël.

“Ons is diep hartseer oor die skielike verlies van een van ons leerders, veral aan die hand van so ʼn gewelddadige daad. Ons keur dit ten sterkste af dat leerders onder mekaar baklei. Ons wil ons innige meegevoel betuig met die geaffekteerde familie en skoolgemeenskap,” het Matome Chiloane, LUR vir onderwys in Gauteng, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.