Brakpan-man steeds in waakeenheid ná huisroof

polisie-huisroof-crime

Argieffoto: SAPD/Facebook

ʼn Week nadat ʼn vrou van Brakpan aan die Oos-Rand tydens ʼn huisroof doodgeskiet is, veg haar seun, wat ten tyde van die rooftog saam met haar was, steeds om sy lewe in ʼn Gautengse hospitaal.

Kapt. Pearl van Staad, woordvoerder van die polisie, het gesê die man wat erge kopbeserings in die huisroof opgedoen het, was weens sy ernstige toestand nog nie in staat om ʼn verklaring aan die polisie af te lê nie. Intussen is niemand nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Van Staad het die man as Antonio Fernandes (44) geïdentifiseer. Sy het gesê Fernandes en sy 64-jarige ma was verlede Saterdagoggend by hul huis in Anzac toe drie gewapende rowers toegeslaan het. Volgens Van Staad kon die vrou daarin slaag om ʼn paniekknoppie te druk en die sekuriteitsmaatskappe het op die alarm gereageer.

“By die veiligheidsbeamptes se aankoms op die toneel het ʼn skietery tussen hulle en die verdagtes ontstaan en die vrou is in die proses doodgeskiet,” het Van Staad gesê. Sy het gesê die drie verdagtes kon daarin slaag om op die vlug te slaan. “Niemand is nog in hegtenis geneem nie, maar daar is ʼn leidraad wat tans deur die ondersoekspan opgevolg word.”

Sy het gesê Fernandes word tans in die waakeenheid van die Netcare Unie-hospitaal behandel.

Van Staad het gesê die polisie vermoed dat daar goed uit die huis gesteel is omdat die huis omgekeer was. Daar kan egter nog nie bevestig word wat presies gesteel is nie, aangesien Fernandes nog nie ʼn verklaring kon aflê nie.

Sake van moord, huisbraak en poging tot moord word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Veritas ·

Brakpan is maar nog altyd ‘n wilde plek. Selfs die Rottweilers loop twee-twee ná sononder.

Snuffels ·

Veritas dink jy nie dis swak smaak nie…dink jy dit kan nie by jou of enige iemand gebeur nie??? Dink mooi watse pyn iets soos die veroorsaak. Die verskil tussen ons “Brakpanners” en jy, ons sal nie sulke swak smaak kommentaar he nie…sal eerder die mense bystaan.

Charne ·

Veritas, jou mening is onvanpas. Ons hele gemeenskap in Brakpan is geruk hierdeur. Dit het niks met Brakpan self tedoen nie. Ek hoop van harte dat jy in so plek bly waar jy en jou familie nie deur moord en dood geraak word nie. Glo my dis orals in elke dorp! Respekteer die oorledene en haar familie!

PJC ·

Mense ek dink julle moet maar leer aanvaar dat daar altyd tussen ons diegene sal wees wat onvanpaste kommentaar sal lewer. Oor die redes sal ek liefs swyg.

Leahim ·

Ek stem nie saam Veritas het ook n reg om sy mening te lig dit is sy opinie geen rede om nou al julle opgekropte frustrasie op hom uit te haal nie die term daarvoor is vryheid van spraak in n demokratiese land haal daai frustrasie uit op die polisie wat weier om hulle werk te doen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.