Brakpan-mortier: Vrou stabiel; ondersoek duur voort

Fleicia Klopper in die hospitaal. Foto: Verskaf

Fleicia Klopper in die hospitaal. Foto: Verskaf

Felicia Klopper (20) van Brakpan aan die Oos-Rand wat Saterdag in haar huis deur ʼn mortier getref is, is steeds in ʼn stabiele toestand in die hospitaal.

“Sy het nog baie pyn en is naar, maar is darem by haar bewussyn,” het Annelie Klopper, Felicia se ma, Maandag aan Maroela Media gesê. “As alles goed gaan, kan sy dalk Woensdag ontslaan word.”

Maroela Media het vroeër berig Klopper is Saterdag in ʼn kritieke toestand in die Glynnwood-hospitaal opgeneem nadat ʼn projektiel deur haar slaapkamer se dak gekom en haar op haar bed getref het. Lees meer hier.

Die projektiel wat Felicia getref het. Foto: Verskaf

Die projektiel wat Felicia getref het. Foto: Verskaf

 

“Sy en ʼn vriendin was op pad om te gaan inkopies doen,” het Annelie gesê. “Felicia het omstreeks 11:00 op haar bed gesit en was besig om haar hare droog te blaas toe die projektiel haar teen haar kop getref het.” Haar skedel is gekraak en sy moes 15 steke kry.

Die Klopper-gesin woon naby Laerskool Die Arend waar die Pannefees die afgelope naweek aangebied is. Dié fees word jaarliks deur die gemeenskap gereël om geld vir liefdadigheid in te samel. Die Suid-Afrikaanse Weermag het ʼn loopbaanuitstalling tydens die fees gehou en inwoners vermoed dat die projektiel van daar af gevuur is.

Martie Greyvenstein, wat op die feeskomitee dien, het aan Maroela Media gesê sy was Vrydag en Saterdag die heeltyd by die fees en die weermag het slegs ʼn uitstalling daar gehou. “Dit is die tweede keer wat ons die fees aanbied, en wat die weermag daar uitstal,” het Greyvenstein gesê. “Die weermag is baie veiligheidsbewus. Ons het al vantevore versoek dat hulle vir ons ʼn rookbom op die veld laat afgaan, maar hulle het geweier omdat die perseel in ʼn woongebied is. Ek kan mense verseker dat die soldate wat by die fees was, niks tydens die geleentheid afgevuur het nie.”

Sy het gesê daar was selfs soldate wat by die weermag se stalletjie oornag en dit bewaak het. “Ek twyfel dus of enigiets daar gesteel kon word,” het Greyvenstein bygevoeg.

Kapt. Disebo Selepe, ʼn woordvoerder van die polisie, het Maandag aan Maroela Media gesê hulle is bewus van die weermag se uitstalling by die fees. “Dit is nou van die grootste belang om te bepaal van waar en deur wie die projektiel gelanseer is,” het Selepe gesê. “Die projektiel het ʼn reeksnommer en ons is besig om te ondersoek aan wie dit behoort. Dit is egter nog te vroeg om vingers te wys voordat die ondersoek nie afgehandel is nie.” Hy kon nie bevestig of ontken dat die projektiel aan die weermag behoort totdat die ondersoek afgehandel is nie.

Selepe versoek die gemeenskap of enige moontlike ooggetuies om na vore te kom. Inligting kan anoniem aan Crime Stop by 08600 10111 verskaf word, of deur ʼn SMS te stuur na 32211.

Die weermag ondersoek ook die aangeleentheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.