Brand aan hange van Tafelberg geblus

Die brand aan die hange van Tafelberg. (Foto: Tafelberg Nasionale Park)

’n Brand aan die hange van Tafelberg in Kaapstad is Sondag in die vroeë oggendure geblus nadat dit Saterdag laatmiddag in die omgewing van Deer Park by Vredehoek uitgebreek het.

Die brand is deur sterk winde aangejaag en verskeie brandbestryders moes deur die loop van die aand spook om die vlamme te blus.

’n Brandbestryder het beserings opgedoen en moes na ’n hospitaal geneem word vir mediese behandeling. ’n Afgebrande lapa is die enigste skade wat in dié stadium aangemeld is.

Brandbestryders reageer op die brand in die omgewing van Deer Park. (Foto: Tafelberg Nasionale Park)

Jermaine Carelse, woordvoerder van die brand-en-reddingsdienste in Kaapstad, sê ’n groot groep van die Stad se nooddienste asook personeel van die Tafelberg Nasionale Park het Saterdagmiddag op die brand bo Deerparkweg gereageer nadat rook by Vredehoek omstreeks 16:25 aangemeld is.

Brandbestryders van Roelandstraat het aanvanklik op dié rook gereageer waarna hulle die omvang van die brand besef en nog hulp ingeroep het.

Volgens Carelse is die brand ná ’n gespook vanoggend omstreeks 04:40 geblus. Die wind het in die vroeë oggendure bedaar.

“Ons het aansienlik afgeskaal van meer as 20 brandbestrydingstoestelle en 100 personeellede tot byna die helfte.”

Oorblywende beamptes is op die toneel om te verseker dat die brand nie weer opvlam nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Mad Mike die Rhodesiër ·

Ek is so moeg om van brande te lees! Die probleem lê gewoonlik by die mense wat onverskillig is, veral met stompies. Hulle besef nie wat die nikotien aan hul longe doen en dan moet hul nog die stompie in droë gras inskiet! Ek was een van daardie skuldiges, maar ek het ophou rook omtrent twee dekades gelede. Ongelukkig is die skade reeds aan my longe saam met mynstof gedoen en ek slyt nou ‘n sukkelbestaan as ‘n kankerlyer as gevolg van dit! Ek het duisende spykers in my doodskis van rook!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.