Brand breek uit in gebou in Germiston

Foto: Ekurhuleni-nooddienste

ʼn Brand het by ʼn gebou in Germiston se middestad uitgebreek en 22 vertrekke is verwoes, het die Ekurhuleni-rampbestuurdienste gesê.

Woordvoerder William Ntladi het gesê die brand het Vrydagmiddag, op Internasionale Brandbestrydersdag uitgebreek in die gebou op die hoek van Park- en Gardenweg. Hy het gesê lede van die publiek het die brandweer ontbied.

“Toe Ekurhuleni-brandbestryders by die toneel opdaag, het die middelste verdieping van die drieverdiepinggebou in ligte laaie gestaan en vlamme het by die vensters uitgeborrel. Die brand het ook na die boonste verdieping versprei,” het Ntladi verduidelik.

“Volgens inligting van die toneel is ʼn elektriese dubbelplaatstoof, waarop iets besig was om te kook, sonder toesig gelaat. ʼn Brand het ontstaan en die hele verdieping het begin brand as gevolg van houtmateriaal wat vir afskortings gebruik is. Altesaam 22 vertrekke is verwoes toe LPG-silinders ontplof het. Geen beserings of sterftes is aangemeld nie.”

Ntladi het gesê die toneel is aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens oorhandig vir verdere ondersoek.

Hy het gesê lede van die publiek het ook gepoog om winkels op die grondverdieping te plunder. “Dit het bedrywighede verhinder en wetstoepassers moes ontbied word om veiligheid te verseker.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.