Brand by Carnival City gou in bedwang gebring

(Foto: Facebook)

’n Brand wat vroeg Saterdagaand by Carnival City in Brakpan aan die Oos-Rand uitgebreek het, is moontlik deur ’n elektriese kortsluiting veroorsaak.

Brandbestryders van Brakpan en Benoni se sentrale brandweerstasies, bygestaan deur die Tsakane-brandweerstasie, het vinnig op die toneel aangekom. ’n Vloot van vier brandweerwaens en 24 personeellede het gereageer en volgens William Ntladi, woordvoerder van die Ekurhuleni-nooddiens, is die brand vinnig in bedwang gebring.

Die toneel is veilig verklaar waarna verdere ondersoek vasgestel het dat veselglasmateriaal van die atrium van die buite-ingang aan die brand geraak het, vermoedelik weens ’n elektriese kortsluiting. Geen beserings is aangemeld nie.

“Verdere ondersoek sal deur brandveiligheidsbeamptes in samewerking met Carnival City se veiligheidbeamptes gedoen word,” het Ntladi gesê.

Die skade wat deur die brand aangerig is (Foto: Verskaf/Carnival City)

Die brand is volgens Annemie Turk, hoofbestuurder van Carnival City, binne sowat 15 minute geblus en het nie na die binnekant van die gebou versprei nie. Die casino het kort na die brand weer heropen.

Video’s van die brand wat op sosiale media versprei word, laat dit lyk of dit ’n groot brand was, maar volgens Turk was dit nie die geval nie.

“Die presiese oorsaak van die brand moet nog vasgestel word, maar Carnival City kan bevestig dat dit nie deur ’n opsetlike of kwaadwillige daad veroorsaak is nie.”

FIRE : CARNIVAL CITY. BRAKPAN. COE. GP. ALL SERVICES ON SCENE.

Posted by Intelligence Bureau SA on Saturday, February 5, 2022

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

parmantig ·

Ja dit het veel erger gelyk van buite! Kan nie dink daar is so “min” skade soos wat beweer word nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.