Brand by Du Toitskloof weer buite beheer

(Foto: Facebook/NCC Wildfires)

Brandbestryders het weer hul hande vol ná ʼn verwoestende brand Dinsdagmiddag omstreeks 14:00 by Du Toitskloof in die Kaapse Wynland-distrik uitgebreek het.

Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM), CapeNature en die Wynlandse brandbeskermingsvereniging (FPA), asook vrywilligers, is sedert gistermiddag met aktiewe brandbestryding besig.

Luidens ʼn plasing op Drakenstein Farm Watch (DFW) se Facebook-blad, het die brand oorkant die Du Kloof-lodge ontstaan en reeds tot in die kranse in die rigting van die Hugenotetonnel versprei.

“Ons kan bevestig dat die brand in Du Toitskloof steeds buite beheer brand.

“Alle paaie in die gebied is tans oop. Brandweerdienste versoek egter dat motoriste met omsigtigheid hier moet reis. Moet asseblief nie stilhou om foto’s te neem nie en volg alle instruksies van verkeersbeamptes.”

(Foto: Facebook/Drakenstein Farm Watch)

Daar is tans sewe brandbestrydingsvoertuie en bemanning op die toneel wat deur drie grondspanne van NCC Wildfires en CapeNature ondersteun word.

“Opdaterings sal volg.”

Maroela Media het vroeër berig brande breek gereeld in die deel van die pas, bekend as die perdeskoen, uit en het tot gevolg dat miljoene rand se brandbestrydingspogings aangewend moet word.

Indien dit nie gedoen word nie, ly die plant- en dierelewe, sowel as die wildlewe en nabygeleë wynplase, miljoene rand se skade, soos reeds telkens in die verlede gebeur het.

Du Toitskloof Worcester side last night.

Posted by SA TRUCK KING. WE ARE trucking on Tuesday, April 16, 2024

Du Toitskloof is aan die brand.

Posted by Mario Van Wyk on Tuesday, April 16, 2024

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Ronél ·

Sjoe, sterkte aan almal betrokke, ons bid die Vader se beskerming oor julle.

Aggie ·

NW-24 het 3 uur gelede berig dat die brand volkome onder beheer is.

Martie ·

Waar kom al die brande in die Weskaap vandaan? Ek bly al 49 jaar hier en vroeër jare was hier ook brande maar darem rêrig nie so baie nie. En so terloops, ons het as kinders in huise sonder elektriese tyd grootgeword maar niks het ooit afgebrand nie, nogal rietdakhuise gewoon.

Aggie ·

Martie, ek stem saam. My denke is dat die meerderheid van hierdie brande deur brandstigters gedoen word!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.