Brand by nóg ʼn premierskantoor

‘n Brand by die premierskantoor in Bhisho in die Oos-Kaap (30 Junie 2017). Foto: Twitter via @holder783

Ure nadat ʼn brand by die kantoor van die Gauteng-premier in die Johannesburgse sakesentrum geblus is, het daar nog ʼn brand by die Oos-Kaapse premier se kantoor ontstaan.

Sonwabo Mbananga, woordvoerder van die Oos-Kaapse regering, het aan Maroela Media bevestig dat die brand by die administrasieblok van die premierskantoor in Bhisho ontstaan het, maar het gesê die vlamme was teen 17:30 heeltemal geblus. “Die brand het ontstaan by ʼn gedeelte van die gebou waar dokumente wat te doen het met voorsieningskettingbestuur geberg word,” het hy gesê.

“Die brand het ontstaan onderwyl hierdie dokumente geskandeer is as deel van ʼn ondersoek na beweerde onreëlmatighede sedert 2010. Die ondersoek na die brand wat die omvang van die skade sal bepaal, sal ook vasstel tot watter mate die ondersoek na die beweerde onreëlmatighede deur die brand geraak sal word.”

‘n Brand by die Gauteng-premier se kantoor in Johannesburg (30 Junie 2017). Foto: Twitter via @LumkoX

Mbananga het gesê dit is nie duidelik wat die oorsaak van die brand was nie en dit sal deel vorm van die polisie en brandweer se ondersoek. Niemand is in die brand beseer nie.

Maroela Media het vroeër berig ʼn brand het Vrydagoggend op die sewende verdieping van die Gauteng-premier, David Makhura, se kantoor begin. Die oorsaak van hierdie brand is ook nog nie bekend nie, maar word ondersoek.

Mbananga het gesê hy kan nie kommentaar lewer oor die brand by Makhura se kantoor nie en wou nie bespiegel of daar ʼn verband tussen die twee brande is nie. “Ons sal wag vir die bevindinge van die ondersoeke na die brande om die oorsaak te bepaal, eerder as om nou te bespiegel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Reti ·

Wil hulle ‘evidence’ vernietig? Óf dít óf iemand het sy mes in vir government.

MissDemeanor ·

Of die Guptas wat bewyse van hul staatskaping wil vernietig. Nou moet ek ook noem dat dit nogals vreemd is dat MaroelaMedia byna niks oor die staatskaping publiseer nie.

Stella ·

Nog n brand?? Met belangrike dokumente verbrand..by n tweede gehou van n premier!
Dit laat n mens maar net wonder!

Petro ·

Nog n brand by n DA beheerde munisipaliteit dit klink maar baie fishy

Hannes ·

Ek ruik n rot, en n vrotte,dit is so oogloopend dat bewyse van wan administrasie vernietig word……

Cherokee ·

re:
‘ondersoek instel tot watter mate die ondersoek deur die brand geraak word’.

Cherokee se mening:
Vroeg in die begin van hierdie millennium wou ‘n prokureur in Durban my vir ‘n tweede keer laat betaal vir transaksiekostes by die koop van eiendom en by navraag het hulle gesê dat die plek waar hul dokumentasie gestoor word, afgebrand het. Hulle het gedoen wat ek versoek het sonder verdere betaling. Nou…. in vandag se dae van digitale stoor ruimtes wat met die druk van ‘n paar knoppies (deur ingeligtes) op verskillende plekke in die wêreld gestoor kan word, is dit kriminele nalatigheid om dit as brandbare materiaal op een enkele trefbare plek te stoor. Maar terloops, onthou ook die ‘herstellende aksie’ (of so iets) wat die DA-liefhebbers voor stem. Ons moet hulle ook in ag neem al/want hulle deel hierdie forum met ons.

MissDemeanor ·

Ek dink daar wordstaatgemaak op oorspronklike dokumente omdat digitale dokumente vervals kan word.

Alida ·

Dit is duidelik hulle vee nie alle bewyse uit nie hulle brand dit sommer.

Swartkat ·

Ja nee as mens van iets of warm bewyse ontslae wil raak dan brand jy dit uit of af –

Michael ·

Hulle het nou agtergekom hulle kan plekke afbrand sonder enige nagevolge of vrees vir die piesang regering se wette of sogenaamde wetstoepassers

Chaparel ·

Is dit dalk n kommunikasie tegniek anno 2017…….met rook signals wil hulle met mekaar praat.

Nita ·

Watwo! Weet nie hoe die brand ontstaan het nie. N vuurhoutjie en petrol. Waarom? Om bewyse van korrupsie uit te wis. Wie het hulle geleer brand? Die aards kolonialis Kitchener en sy verskroeide aarde beleid. So Ziller was tog reg. Kolonialisme het julle iets goeds geleer. Brand en verwoes alles.

Dawie ·

Die Gauteng en Oos-Kaap word deur die ANC beheer en beide Premiere is ANC.

Swartkat ·

Wonder of iemand nie aandele het in die vuurhoutjie fabriek nie of is dit hoekom die petrol prys so drasties daal

piper ·

in een week, bloemfontein se stadsaal, gauteng se premier se kantoor, oos-kaap se premier se kantoor, mesina se munisipale kantoor. waar gaan dit eindig en wat gaan oorbly. dit lyk my die manne raak bang en vernietig bewyse voor die groot ondersoeke begin.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.