Brand by parlement versprei na nuwe vleuel

Rook borrel uit die parlementsgebou on Kaapstad. (Foto: RODGER BOSCH / AFP)

’n Brand woed steeds by die parlement in Kaapstad, met minstens 60 brandbestryders wat nou spook om die vlamme te blus.

Die ou volksraad in die ou vleuel, sowel as nuwe vleuel wat die Nasionale Vergadering  en die Nasionale Raad van Provinsies huisves, word tans deur die brand geraak.

“Die brand in die ou vleuel is reeds in bedwang gebring. Brandbestryders probeer tans om die brand in die nuwe vleuel, waar dit die Nasionale Vergadering raak, in bedwang te bring,” sê die parlement in ’n verklaring.

Volgens JP Smith, Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, het ’n gedeelte van die dak intussen meegegee en groot skade is aangerig.

Brandweerwaens Sondag by die parlementsgebou. (Foto: RODGER BOSCH / AFP)

Smith het ’n rukkie gelede aan verslaggewers buite die parlement gesê die brand is “nie onder beheer nie”.

Dit nadat Patricia de Lille, die minister van openbare werke en infrastruktuur, vroeër vanoggend tydens ’n voorlopige inligtingsessie gesê het dat die brandweer die brand onder beheer het.

“Die Nasionale Vergadering is steeds veilig,” het De Lille volgehou.

Brandbestryders Sondag by die parlement in Kaapstad. (Foto: Marco LONGARI / AFP)

Jermaine Carelse, woordvoerder van die brand-en-reddingsdienste in Kaapstad, sê die brand-en-reddingsdienste het 06:12 die oproep ontvang oor ’n brandende gebou in Parlementlaan. Daar is aanvanklik gesê dat die oproep kort ná 05:00 ingekom het.

Brandbestryders was ses minute later op die toneel, hoewel hulle aanvanklik gesukkel het om toegang tot die gebou te kry weens veiligheidsmaatreëls wat by die parlement geld.

Rook borrel uit die parlementsgebou in Kaapstad. (Foto: Obed Zilwa / AFP)

Maroela Media het vroeër berig die brand het vroegoggend in kantore van die parlement ontstaan voordat dit na die gimnasium versprei het.

Die oorsaak van die brand is in die stadium nog onbekend en ondersoek word ingestel. Smith het hom daartoe verbind om die oorsaak van die brand bekend te maak sodra dit vasgestel is aangesien dit “van openbare belang” is.

Rook borrel uit die parlementsgebou in Kaapstad. (Foto: Obed Zilwa / AFP)

Vrae oor die parlement se veiligheidstelsel het intussen ontstaan aangesien dit geruime tyd geneem het voordat alarm gemaak is.

Geen beserings is aangemeld nie.

Dit is die tweede brand in minder as ’n jaar by die parlementsgebou.

Die parlement bestaan ​​uit drie afdelings: die oorspronklike en oudste gebou wat in 1884 voltooi is, sowel as die nuwer toevoegings – gebou in onderskeidelik die 1920’s en 1980’s – wat die Nasionale Vergadering huisves.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Waarnemer ·

Is die man wie ingeneem is vir ondervraging die brandstigter?Hoe het hy by die sekuriteit verby grkom?Waarom het die sekuriteit so lank gevst om brandbestryders by due brand te last uitkom?

Papsak ·

Swak sekuriteit manne wat skelm en brandstigters laat verby kom treurig werk seker saam

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.