Brand by US-gebou: Akademiese aktiwiteite gaan voort

Brand by Van der Sterr-gebou by die Universiteit Stellenbosch (22 Februarie 2015) (Foto deur 'n leser aan Maroela Media verskaf)

Brand by Van der Sterr-gebou by die Universiteit Stellenbosch (22 Februarie 2015) (Foto deur ‘n leser aan Maroela Media verskaf)

Die oorsaak en volle omvang van Sondag se brand by die Van der Sterr-gebou by die Universiteit Stellenbosch (US) in die Wes-Kaap, is nog nie bekend nie.

Volgens die universiteit het die brandalarm kort voor 09:00 afgegaan en was die brand teen 11:00 onder beheer. “Die grootste brandskade is aan die dak en derde vloer aan die noorde en ooste kant van die gebou aangerig. Brandmure in die Van der Sterr-gebou het vermoedelik voorkom dat die brand verder versprei het.”

Prof. Leopoldt van Huyssteen, bedryfshoof en waarnemende rektor en visekanselier, het gesê hulle is verlig dat daar geen lewensverlies of beserings was nie. “Gebeurlikheidsplanne is dadelik in werking gestel om die situasie te hanteer en om veral akademiese aktiwiteite met so min ontwrigting moontlik te laat voortduur. My dank aan die nooddienste en almal wat vinnig ingespring het om te help.”

Volgens die universiteit huisves die Van der Sterr-gebou verskeie departemente en afdelings van die fakulteit ekonomiese en bestuurswetenskappe (EBW), waaronder die Skool vir Rekeningkunde, Sentrum vir Statistiese Konsultasie, Nagraadse Laboratorium vir Logistiek, ʼn rekenaargebruikersarea asook werkstasies vir ʼn aantal PhD-studente.

“Sowat 75 personeellede werk in die gebou, en tot ongeveer 2 500 studente loop per periode daar klas, sommige ook uit ander fakulteite. Alternatiewe reëlings word getref om toetse en klasse te herskeduleer, en personeellede elders te akkommodeer. Aankondigings hieroor volg so gou moontlik en studente word gevra om die US-webblad en dié van die fakulteit dop te hou,” het prof Stan du Plessis, dekaan van die fakulteit EBW, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.