Brand deur ‘genadereën’ op Du Toitskloofpas geblus

Die brand Donderdagoggend omstreeks 03:41 op die Du Toitskloofpas (Foto: Cape Town FMS, Twitter)

Die veldbrand wat Donderdag vroegoggend op die Du Toitskloofpas in die Wes-Kaap uitgebreek het, is deur die loop van die middag danksy reën onder beheer gebring. Brandbestryders van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit het heel dag lank gespook om dit te blus.

Volgens Jo-Ann Otto, woordvoerder van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit, is die brandbestrydingspanne steeds op die toneel om die brand te monitor en met opruimingswerk te begin.

Sy sê die brand het langs die N1, in die rigting van Worcester, uitgebreek.

Motoriste is gewaarsku om versigtig op die N1 in die Du Toitskloofpas tussen die Hugenote-tonnel en die Rawsonville-weegbrug te beweeg. Sterk wind het die brand egter buite beheer laat woed.

Otto sê ʼn span van sowat 27 brandbestryders het teen 13:30 steeds gespook om die brand in stormsterkte wind onder beheer te bring. “Die wind het die brandbestryding moeilik gemaak.”

Intussen het brandbestryders van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit ook gespook om ʼn veldbrand, wat in die berge by Tulbagh, aan Ceres se kant, uitgebreek het, onder beheer te bring. Die brand het ook weens die sterk wind versprei. Die brand was teen vroegmiddag nog buite beheer.

Die reën wat die middag begin val het, het gehelp om ook dié brand onder beheer te bring. Die brandbestrydingspanne monitor steeds die situasie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.