Brand in Suid-Kaap amper geblus

Die brand naby Stilbaai is reeds Sondagmiddag aangemeld, maar brandbestryders van heinde en ver probeer dit steeds bedwing. Foto: Working on Fire

Die reuse-span wat ontplooi is om die verwoestende brand in die Suid-Kaap te bestry, hoop om dit teen vanaand in bedwang te bring.

Reinard Geldenhuys, Overberg-distriksmunisipaliteit se bestuurder van nooddienste, sê ʼn magdom brandbestryders is na die omgewing van Vermaaklikheid, suid van Heidelberg in die Wes-Kaap, ontplooi vandat die brand Sondagmiddag 15:15 aangemeld is.

Hessequa-munisipaliteit se beamptes word bygestaan deur dié van die Tuinroete- en Overberg -distriksmunisipaliteit, George-munisipaliteit en Working on Fire (WOF).

Geldenhuys vertel benewens die mense wat die brand bestry, behels die groot organisasie ook ambulanse op gereedheidsgrondslag en busse wat gereedstaan om inwoners te ontruim.

Hy skat tot dusver het sowat 2 200 hektaar fynbosgebied afgebrand, terwyl heinings om wildkampe ook in die slag gebly het.

“Ek wil vanaand huis toe gaan,” het Geldenhuys wat aan die hoof van die tussentydse bevelspan staan, Woensdagmiddag aan Maroela Media gesê. “Van die ouens [wat die brand help bestry] gaan tuis in gastehuise in die omgewing of slaap maar waar hulle plek kry.”

Nico Heyns (65), ʼn vlieënier wat met die brandbestrydingspogings gehelp het, het gister gesterf toe die helikopter in die omgewing van die brand neergestort het. Die oorsaak van dié ongeluk word ondersoek.

Intussen het WOF getwiet 30 brandbestryders is van Tsitsikamma en die Lottering‑pas na die Lottering‑woud gestuur om te help om die brand daar onder bedwang te bring.

In die Oos-Kaap is die WOF-spanne van Mhlanhlane, Ugie, Langeni en Elliot vanoggend gestuur na ʼn brand in die Singisi-woud.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.