Brand in wildtuin fyn dopgehou

Die brand is oornag fyn dopgehou. Dit woed in die omgewing van die Tamboti-kamp in die Krugerwildtuin. (Foto: SANParke)

SANParke sê die Kingfisherspruit- en Tamboti-kampe in die Krugerwildtuin is “voorlopig” veilig nadat ʼn brand Dinsdagaand in die gebied uitgebreek het.

Gaste moes laat gisteraand die twee kampe as voorsorgmaatreël verlaat en brandbestrydingspanne is in die streek ontplooi.

Die owerheid het Woensdagoggend gesê die brand is deur die nag dopgehou en voorbrande is om die kampe gemaak in ʼn poging om dit te beveilig.

Die span het ʼn kort ruk gelede in die rigting van Ngala beweeg en sal nou voorbrande doen om te keer dat die brande na private natuurreservate wat aan die Krugerwildtuin grens, versprei.

“Die brand is in hierdie stadium in bedwang,” lui ʼn verklaring van SANParke.

ʼn Sterk wind bemoeilik oënskynlik brandbestrydingspogings. Op talle plekke is dit ook steeds baie droog.

Volgens plasings op sosiale media is gaste gewaarsku om gereed te wees om op kort kennisgewing die kampe te verlaat, sou die brandalarm afgaan.

Besoekers is sowat ʼn week gelede ook gewaarsku oor ʼn groot brand in die Tshokwane-gebied. Warm temperature en wind het dit bykans onmoontlik gemaak vir brandbestryders om die vlamme te beheer. Geen infrastruktuur is beskadig nie en geen beserings is aangemeld nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Di ·

Dis verseker weer brandstigting! Die verantwoordelik hiervoor wil seker maak als brand af

Niklaas ·

En ons het juis vroeg die Dinsdag-oggend opgepak in Tamboti om huis toe te gaan . Net betyds . (Nee , ons het nie die vuur veroorsaak nie) . Dit was erg warm en alles het vreeslik droog gelyk. Daar was heelwat veldbrande in die KNP die afgelope maand en mens kry baie vermoedens , maar daars nie bewyse nie.

Swerwer ·

Ai, dit is so hartseer. Hoeveel onskuldige diertjies/diere het in die brand omgekom en hoeveel van hul ly as gevolg van brandwonde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.