Brand lê Rustenburgse kerk in puin

Die kerkgebou van die Hervormde Gemeente Rustenburg-Kloof het Sondagoggend tussen 01:00 en 02:00 afgebrand. Foto: Facebook

Die Hervormde gemeente Rustenburg-Kloof in Noordwes is dankbaar dat hul lapa nie ook in die slag gebly het in die brand wat vroeg Sondagoggend hul kerkgebou in puin gelê het nie.

“Die mans het vanoggend vinnig stoele aangedra, toe het ons kerk onder die lapa gehou,” vertel Yvette Enslin, vrou van ds. Nardus Enslin, oor die geluk by die ongeluk dat die gemeente darem nog ʼn eie plek het om vir eredienste bymekaar te kom.

Enslin vertel die alarmmaatskappy het kort na 01:00 Sondag pastorie toe gebel om te sê iets skort by die kerk, sowat 15 m daarvandaan. Haar man wou om veiligheidsredes dit nie waag om alleen kerk toe te gaan nie en het gevra dat hulle iemand uitstuur.

Die NHKA Gemeente Rustenburg-Kloof se kerkgebou is in 1980 opgerig. Foto: Facebook

Om 01:22 het die alarmmense weer gebel, dié keer om te sê die 38 jaar oue kerkgebou brand. Haar man het uitgehardloop om te gaan kyk terwyl Enslin hul seun wakker gemaak het. Sy kon nie uit hul slaapkamer sien die kerk brand nie, maar van die studeerkamer se balkon af was die rookwolk en die vlamme wat ál hoër bo die kerk se dak uitgeklim het, duidelik sigbaar.

Die brandweer was binne 20 minute op die toneel, maar toe was dit reeds te laat om die kerkgebou te red. Enslin vertel hulle het dit wel reggekry om die kategeselokaal ʼn hanetree van die kerk af te red; net die ruite het gebars en die deure swart gebrand.

Die dak het van die geweldige hitte van die brand ineengestort. Foto: Facebook

Waarvoor die gemeente egter die dankbaarste is, is dat die brandweer die lapa kon red. Enslin vertel hulle het nie ʼn kerksaal nie, maar kom altyd daar vir geleenthede bymekaar. Met Doopsondag oor ʼn week sal hulle ook die lapa gebruik en ʼn doopvont wat een van die plaaslike NG gemeentes aangebied het om vir hulle te leen.

Enslin vertel hulle bly vanjaar die eerste keer in ʼn lang tyd in die Kersvakansie tuis en sal in dié tyd Sondae onder die lapa eredienste hou. Aan wat hulle vroeg volgende jaar gaan maak wanneer die kerkgangers ná die vakansie voltallig is en die lapa nie almal sal kan bevat nie, het hulle nog nie gedink nie.

Dis nog nie bekend hoe die brand ontstaan het nie. Foto: Facebook

Sy vertel die gemeente is verslae en geskok, maar te oordeel na die goeie gees Sondagoggend met die erediens, sal die gemeente hierdie terugslag wel kan oorkom.

Enigiemand wat wil bydra tot die fonds om die versekering op die kerkgebou aan te vul, kan Lettie Mienie by 066 202 6820 of ds. Enslin by 083 655 6653 bel.

Ds. Carel-Johann de Bruin, kurator van die Hervormde Kerk se museum in Pretoria, skryf op Facebook dis sover sy kennis strek, die eerste Hervormde kerk wat afbrand sedert die Tweede Vryheidsoorlog, 116 jaar gelede.

Dié kerkverband het reeds minstens vier kerke in brande verloor: Schoemansdal se kerkie toe die bewoners die dorpie in 1867 verlaat het, die eerste kerk op Kerkplein in Pretoria 1879 en die kerkgeboue van Trichardtsfontein en Dullstroom tydens die Driejarige Oorlog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Erika Ochse ·

Nog snaakser die brandstigters en gewekdenaars se lot verbeter nie. Hulle sterf binne diesefde lot wat hulle gedryf het.

Attie & Yvonne Roestoff ·

Dis hartseer, Sterkte Nardus ons hoop dit sal goedgaan met jou en die gemeente!

My c ·

Hoekom het die alarm maatskappy nie in die eerste plek n voertuig uitgestuur nie? Waarvoor betaal mens die versekering? Na 2 oproepe stuuf hul eers die voertuig. Swak diens!!!!

Selena ·

Ek kry altyd so naar kol op my maag as nog iets brand want ek dink aan Roger Teale se boodskap in 1994, They will burn everything. Soek dit op Youtube. Dis “They will burn everything – Roger Teale. Laat my weet wat julle dink asseblief.

Alwyna ·

Jy is reg Selena. Ek dink daar het al meer geboue hierdie jaar afgebrand as al die ander jare saam…something’s cooking…

Peet Schabort ·

Daarom is dit uiters noodsaaklik om dokumentasie en foto’s te maak van die geskiedenis. Kyk by http://www.genza.org.za/bonus/main.php?g2_itemId=29511 vir foto’s vd kerk. Ontstellend is ook die afbrand vd geskiedkundige Anglikaanse kerk in Rustenburg http://www.genza.org.za/bonus/main.php?g2_itemId=29505 So ook die Metodiste kerk http://www.genza.org.za/bonus/main.php?g2_itemId=14428
‘n Werklik bemoedigende storie is hoe die Vaalrivier NG Gemeente hul verlies positief omgedraai het http://www.genza.org.za/bonus/main.php?g2_itemId=16916
Wetenswaardig is die Trichardtsfontein Hervormde gemeente se kerk http://www.genza.org.za/bonus/main.php?g2_itemId=14348 waar twee bome staan wat ongeveer 141 jaar oud is!! Die bewys is te vinde by die kerkhof wat eers op die kerkterrein was en later verskuif is na die Trichardt kerkhof. Sien http://www.genza.org.za/bonus/main.php?g2_itemId=14144 vir die twee bome en die grafte by https://www.graves-at-eggsa.org/main.php?g2_itemId=1562291 waar Warburton in 1877 begrawe is deur die Boere omdat ‘n Engelse prediker nie beskikbaar was.
Sterkte aan die Rustenburg se gemeente wat seer sekerlik die terugslag positief gaan omkeer. God het ‘n doel met alles.

Hercules ·

vergeet vandie doopvont, bou ‘n swembad en doop volgens Matt 28:19 – “Therefore, go and make disciples of all the nations, baptizing them in the name of the Father and the Son and the Holy Spirit. Teach these new disciples to obey all the commands I have given you. And be sure of this: I am with you always, even to the end of the age.” Matt 28:19

pieter ·

Hercules, uiters onsmaaklik om jou issue met die doop in die gereformeerde kerke hier in te bring. Totaal liefdeloos!

JAN ·

Tragies. God sal voorsien en sy Engele stuur. Lig in duisternus.
60% van Christene lewe in heidense lande. Bid dat Trump sal slaag om ons te red!! Belowe!
Hier is ons Christen leier 50 jaar gele de vermoor en die blanke akademisie aanbid sy moordenaar as gesant van God. Belowe! Heidense diaboliese nasionale sekfmoord.

sus ·

satan sal enigiets doen om ons te verhoed om God te aanbid, maar ons het nie geboue nodig nie, ons kan ons Almagtige God en Vader op enige plek in die heelal loof en prys!!!!! Dit is steeds ‘n groot verlies en as dit ‘n petrolbom was soos ek gehoor het, hoop ek die skuldige/s word gevang en betaal die prys vir hul onnoselheid!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.