Video: Brand saai verwoesting in koshuis van skool vir dowes

Die De la Bat Skool vir Dowes se Boetman- junior koshuis in ligte laaie (Foto: Facebook)

Altesaam 17 laerskoolseuns en een koshuismoeder van ʼn skool vir gehoorgestremdes in Worcester in die Wes-Kaap is ongedeerd nadat ʼn brand Maandagaand by een van die junior koshuise op die perseel uitgebreek het.

Philip Cook, skoolhoof van die De la Bat Skool vir Dowes, het dié nuus aan Maroela Media bevestig.

Cook sê dit is in dié stadium nog onduidelik wat die brand op die eerste vloer van die Boetman- junior koshuis veroorsaak het.

Hy sê al die koshuisseuns was in die ontspanningslokaal op ʼn ander vloer van die koshuis toe die brand uitgebreek het. “Die koshuis is onmiddellik ontruim. Daar was nie tyd vir die seuns om enige besittings te probeer red nie, en ons ontruimingsmaatreëls bepaal ook dat dit nie toelaatbaar sou wees nie. Alles behalwe die klere aan hul lywe is in die brand verwoes,” sê hy.

Niemand is in die voorval beseer nie. Volgens Cook is die seuns en die koshuismoeder “erg getraumatiseerd”.

Cook sê ʼn ondersoek na die voorval duur steeds voort. Hy sê die skool hoop die brandweerdiens se verslag sal meer lig op die voorval kan werp.

Die De la Bat Skool vir Dowes se Boetman- junior koshuis in ligte laaie (Foto: Facebook)

Volgens hom is ʼn behoeftebepaling tans aan die gang. Hy sê die gemeenskap het onmiddellik met skenkings ingespring. “Die gemeenskap is wonderlik,” sê hy. “Honderde mense het komberse en klere en goed waarmee ons die seuns kan versorg aan die skool geskenk. Ons sal byna sover gaan as om te sê in dié area het ons byna genoeg.”

Hy sê befondsing vir die herstel van die gebou en die aankoop van die seuns se besittings wat in die brand verwoes is, is in dié stadium broodnodig. “Ons grootste behoefte is kontantbydraes vir die langtermynoplossing. Ons vra elkeen om hulle harte vir hierdie kinders oop te maak. Die skool waardeer elke bydrae ongelooflik baie.”

Die De la Bat Skool vir Dowes is ʼn gekombineerde skool vir gehoorgestremdes. Die skool het nege koshuise op sy perseel.

Vir meer inligting rakende skenkings besoek die De la Bat Skool vir Dowes se Facebook-blad, stuur ʼn e-pos na [email protected] of kontak die skool by 023 342 2560.

Boetman, die junior seunskoshuis het vanmiddag afgebrand. 17 seuns – ouderdomme 7 tot 11 jaar – het al hul besittings verloor. Klere, skoolklere, beddegoed en linne. Die huismoeder het ook alles verloor. Navrae oor bydraes kan gerig word aan die maatskaplike werker, Maryke le Roux.Finansiële bydraes kan in die skoolrekening inbetaal word. Verwysing: Boetman.De la BatskoolFNB WorcesterBankkode 200 407Rekeningnommer 54330050293Telefoon 023 342 2560epos: finance@delabatskool.co.za

Posted by De la Batskool vir Dowes on Monday, May 21, 2018

Die De la Bat Skool vir Dowes se Boetman- junior koshuis in ligte laaie (Foto: Facebook)

Die De la Bat Skool vir Dowes se Boetman- junior koshuis in ligte laaie (Foto: Facebook)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.