Brand teen Tafelberg-hang onder beheer

Brand op Leeukop (Foto: SANParke)

Die brand wat Sondag aan die voet van Tafelberg in Kaapstad uitgebreek het, is tans onder beheer.

Volgens Jermaine Carelse, woordvoerder van die Stad Kaapstad se brand- en reddingsdiens, is die brand grootliks geblus.

“Die brand- en reddingsdiens het Maandagoggend skofte geruil en monitor sekere dele van die gebied,” het Carelse gesê. ʼn Helikopter beweeg ook oor die gebied om seker te maak die brand is ten volle onder beheer.

Geen vlamme is meer sigbaar nie. “Daar is op die oomblik net rook wat oor die gebied hang,” het Carelse gesê. Die wind het ook intussen gaan lê.

Sekere paaie in die gebied is steeds gesluit en verkeersbeamptes help om die verkeer te herlei op alternatiewe roetes.

Brand op Leeukop (Foto: SANParke)

Maroela Media het vroeër berig die brand het Sondag net voor 13:00 in die Kloofnekweg-gebied aan die voet van Tafelberg uitgebreek en later weens die sterk Suidooster oor Seinheuwelweg gespring en in die rigting van Leeukop beweeg.

Brandbestryders het te midde van gevaarlike omstandighede deurnag gespook om die brand onder beheer te bring. Huise is beskadig en minstens vyf motors het in die proses uitgebrand.

Drie polisiebeamptes het Maandagoggend die toneel ondersoek. Die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SomeOne ·

dalk was dit brandstigting
heeltemal onnodige skade – sterkte aan “almal”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.