Brand verwoes 72 huise in Plettenbergbaai

Foto: Pixabay

Die Bitou-munisipaliteit in die Wes-Kaap het ʼn dringende aansoek gedoen vir rampbestuurfinansiering nadat 72 huise in die Qolweni- informele nedersetting in ʼn brand verwoes is.

Die munisipaliteit het die aansoek aan die departement van menslike nedersettings gestuur nadat die plakkershuise tussen April en Mei verwoes is.

Die munisipaliteit het gesê die jongste voorval hou verband met ʼn brand wat Sondagaand in Qolweni uitgebreek het. “Altesaam 25 strukture is óf heeltemal óf gedeeltelik verwoes en 74 persone, insluitend 31 kinders, word hierdeur geraak. ʼn Bejaarde man het tydens die brand omgekom. Die Plettenbergbaai-polisie ondersoek die saak,” het Manfred van Rooyen, woordvoerder van die munisipaliteit, gesê.

Volgens die brandweer is die oorsaak van die brand nog nie bekend nie, maar ʼn ondersoek duur voort en die besonderhede sal beskikbaar gemaak word, het Van Rooyen bygevoeg.

Hy het gesê die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) en Bitou-munisipaliteit het begin om komberse, matrasse en kospakkies uit te deel.

“Die behuisingsafdeling van Bitou het aangedui dat hulle tans ʼn tekort van ongeveer R600 000 beleef om die slagoffers van die brand met boumateriaal te help. Dit sal hopelik aangespreek word sodra die aansoek vir rampbestuurverligting goedgekeur word. Bitou-munisipaliteit en Eskom sal die omvang van die skade aan elektriese en ander munisipale infrastruktuur bepaal en sodra finansiering beskikbaar is, sal die beskadigde infrastruktuur vervang word.”

Burgemeester Msimboti Lobese het sy medelye met die familie en vriende van die oorledene betoon en het onderneem om met die departement van binnelandse sake saam te werk om die slagoffers te help om hul identiteitsdokumente en geboortesertifikate te vervang. Lobese is ook besig met ʼn veldtog om leerders met hul skooluniforms te help.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

leser ·

tragies
nou kan 100de onwetiges hul id en geboorte sertifikate bekom

Ina ·

Toe Knysna gebrand het was dit hoofopskrifte… baie tragies dat die armste van die armstes dan nog veroordeel word (verwys na kommentaar hierbo)… en net aangeneem word dat almal onwettig is. Waar is jou hart?

Meegevoel ·

Same baie jammer sterkte.
Bg sal sekerlik geldelike bydrae maak.
R600.000- Is dalk nie genoeg.
Was geleer vuur speel is gevaarlik.
Die pakhuis naby Kirkwood wat ook
afgebrand is nét so tragedie baie kan nou
sonder werk moet gaan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.