Brand wat broodnodige voer verwoes glo opsetlik gestig

Sowat R1,8 miljoen se voer is verwoes. (Foto: Verskaf)

ʼn Boer van Oudtshoorn in die Suid-Kaap is nog besig met ʼn omvattende skadebepaling nadat drie van sy store Sondag in die vroeë oggendure afgebrand het nadat dit vermoedelik met opset aan die brand gesteek is.

Joey Potgieter, ʼn volstruisboer van die omgewing, sê nagenoeg R1,8 miljoen se voer is heeltemal verwoes.

“Al daai voer is aangekoopte voer, dit is wat dit so erg maak. Dit is geweldig droog en ons het die voer baie nodig,” het Potgieter gesê.

Benewens die voer wat verwoes is, moet die struktuurskade aan die store nog bepaal word.

Potgieter sê ʼn polisiebeampte op patrollie het gister in die vroeë oggendure gesien een van die skure brand en het hom dadelik laat weet. Potgieter-hulle het dié brand begin bestry, maar skaars ʼn uur later het nóg ʼn stoor, sowat 1,5 km verder, ook in ligte laaie gestaan.

Potgieter sê die store is juis ver van mekaar gebou om die risiko van brand te verminder. Dit kans dat die brand dus van een gebou na die volgende gespring het, is bykans onmoontlik.

“Die tweede en derde stoor het boonop sowat gelyktydig begin brand,” sê hy.

Potgieter sê hulle moes ook spook om te keer dat ʼn voerpilvervaardigingsaanleg op die plaas nié ook verwoes word nie.

Die vermoede bestaan dat ʼn voormalige werker moontlik by die voorval betrokke kan wees. Potgieter sê die man is ʼn ruk gelede uit die gevangenis vrygelaat en is Sondag – terwyl die brand gewoed het – by die hoofhuis op die plaas, asook op verskeie plekke in die omgewing, opgemerk.

Niemand is in die brand beseer nie.

Okkie Terblanche, die DA se woordvoerder oor polisie, sê die brandstigting is veel meer as net ʼn ongerief vir die boer. “Die voer wat verwoes is, was veronderstel om sy vee te voer. Die skade aan eiendom plaas boonop bykomende druk op ʼn reeds stresvolle beroep, om nie eens te praat van die skade wat aan die omliggende plase aangerig kon word as die brand nie in bedwang gebring is nie.”

Terblanche sê Potgieter het die polisie vroeër oor verdagte bedrywighede ingelig.

“As die nodige ondersoek gedoen is en behoorlike voorsorgmaatreëls getref is wat misdaadintelligensie betref, kon hierdie voorval van brandstigting voorkom word.

“Die veiligheidsituasie in Suid-Afrika se landelike gebiede is onhoudbaar en kan nie onbelemmerd voortgaan nie. Baie beloftes is in die nadraai van die onlangse plaasmoorde gemaak en dit is tyd dat dit in werking gestel word en dat landbouers en werkers beskerm word en nie vir die wolwe gegooi word nie,” het Terblanche gesê.

Kapt. Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder in die Suid-Kaap, het gesê ʼn saak van brandstigting word ondersoek.

Die Oudtshoorn-brandweer is na die toneel ontbied, maar die skure kon nie gered word nie.

Die polisie het ʼn beroep op enigiemand met inligting oor die voorval gedoen om die ondersoekbeampte, ao. Tobie Alberts by 044 274 4400 te kontak, of die polisie se Stop Misdaadnommer by 08600 10111 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

JohanR ·

Hoe kan ons kom by ‘n situasie waar elke plaas in die nagtelike ure beskerm word? In die dag is die mense en werkers van die plaas daar bedrywig, maar wat van die middernag ure se van 20h00 tot 04h00. Soe kan die rerig nie aangaan nie!

Persheks Adri ·

Weereens was dit aangemeld by die polisie en WEER het hulle nie hulle werk gedoen nie ne Cele! Nes in Senekal… Wat gaan julle maak sonder kos van die boere? Hierdie goed maak my boos kwaad verby!!!

Hercules ·

Bheki Cele is een van die rykste narre in die wêreld se grootste cANCer Sirkus!!

Tanniepetoors ·

As die skuldiges vasgetrek word moet hul eers n oudtydse loesing kry – oor die boude met n lekker dik rottang voor hul tronkstraf begin. Dalk meer effektief as vakansie in die tronk.

Anel ·

En dit moet voor Ramaparra se deur gelê word. Eis persoonlik van hom. Hy is mos ‘n biljoenêr. Volgens hom is daar geen musdaad op plase nie.

Kanjynoumeer ·

Stresvolle beroep, dit kan jy weer sê.
Dit is nou geen lieg nie!!

Dawn ·

Kan mens nie begin geld insamel vir boere nie. Jakaranda 94.7? Morning angels. N fonds stig. Ons hier in die stede voel ons wil ook help.

Persheks Adri ·

Ja beslis die verdagte van Senekal al 19 klagtes het en die ander verdagte ook vorige klagtes het. Boos kwaad hoor

Alta ·

Hy het nou brand gestig, volgende pleeg hy plaasmoorde. Hul het nou maar eenmaal die idee in hul koppe om plase aan te val. Cele word wakker asb!

Genis ·

Die twee Zondo ondersoekenis Cele en Malema sal seker weer in die hof langs mekaar sit, sou die polisie naby n KFC die verdagte vastrek…

Misky ·

Ek dink nie dis toevallig dat al die brande nou so skielik kop uitsteek nie. Groot dele van Vrystaat het hulle oor die naweek begin brand en dit brand steeds en dit na Vrydag se drama in Senekal. Ek op whats app groep vir boere en net vanmore gehoor van brand op plaas in Henneman en die boer se watertenks is gesaboteer toe hulle wil begin spuit. Beplande aksies en kom van “instigators” en ons almal weet wie……

Maria ·

Ons deel ‘n land met mense wat sulke dinge doen. Die slegste van die slegtes.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.