Brandbestryder sterf in Overberg-brande

Nelio van Rooi (26) die brandbestryder wat dood is tydens ‘n brand in die overberg-distrik. (Foto: Facebook)

Deur Rasaad Adams

Die Overberg-distriksmunisipaliteit het sy medelye met die familie van ʼn brandbestryder betuig, nadat hy Sondag tydens ’n brand in die Barrydale-omgewing gesterf het.

Die Hoërskool Barrydale het ook op sy Facebook-blad medelye betoon met Nelio van Rooi (26) se familie. Hy het in 2014 aan dié skool gematrikuleer.

“Nelio was spoggerig toe hy ʼn brandweerman geword het. Hy was trots op die werk wat hy gedoen het. Hy was ʼn voorbeeld vir ons almal,” lui ʼn inskrywing op die skool se Facebook-blad. “’n Ware held was jy en het jy gesterf. Die gemeenskap van Barrydale is geruk deur jou skielike dood. Jy gaan gemis word. Rus in vrede Nelio.”

Brandbestryders in Barrydale spook al die afgelope ses dae om die veldbrand onder beheer te bring. Dit is onseker wat die brand veroorsaak het.

Volgens Greater Overberg Fire Protection Association (goFPA) word die brand aangehits deur sterk winde. “Tydens sterk winde Sondag is ’n struktuur deur die brand vernietig. Ons kan ook bevestig dat ’n brandbestryder sy lewe verloor het,” het Lester Smith, Overstrand se brandweerhoof, gesê.

Twee brandbestryders is ook Sondag gehospitaliseer nadat hulle beserings tydens ’n brand in die Overstrand-omgewing opgedoen het.

Smith het bevestig dat een van dié twee brandbestryders slegs vir observasie opgeneem is, terwyl die ander een tweedegraadse brandwonde opgedoen het.

 *Die foto wat aanvanklik in dié berig gebruik is, het verkeerdelik die indruk geskep dat Nelio van Rooi vir Working on Fire werk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Casper ·

Ag shame hoe hartseer.Ek hoop hy word met volle eerbewys terruste gelê.

Tinker ·

Innige simpatie aan die familie. Ek het 2 jaar in die kaap gebly teen die berg, het n skrikwekkende oggend gehad toe ek wakker word van n helikopter. Buite gekom toe sien ek die fynbos teen die berg brand, n vrees wat ek nooit weer wil voel nie. Ek het die wereld se respek vir daai manne en vroue gekry na daai dag, hulle is van die beste in ons land.

Cabytheron ·

So jammer. Vinnige herstel en innige simpatie met die oorledene se familie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.