Brandbestryder sterf ná sy tydens brand ineenstort

Candice Kruger, ook bekend as Ashley. Foto: Facebook

ʼn Brandbestryder verbonde aan die Roelandstraat-brandweerstasie in Kaapstad het Sondag gesterf nadat sy ineengestort het terwyl sy teen ʼn brand op Tafelberg geveg het.

Candice Kruger, ook bekend as Ashley, is na ʼn hospitaal gehaas, maar het kort ná haar aankoms daar gesterf.

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, het aan Maroela Media gesê Kruger het ʼn tipe aanval op die berg gehad waarna sy na die hospitaal gehaas is. “Daar word vermoed dat sy ʼn hartaanval gehad het, maar dit sal eers amptelik tydens die nadoodse ondersoek bevestig kan word,” het hy gesê.

Hy het gesê Kruger was nege jaar lank in diens van die brandweer en baie geliefd onder haar kollegas. “Sy sal ʼn amptelike brandweer-begrafnis ontvang aangesien sy gesterf het terwyl sy ʼn brand bestry het.”

Smith het gesê ʼn volledige persverklaring rakende Kruger se afsterwe sal later uitgereik word nadat daar met haar familie in gesprek getree is.

Verskeie huldeblyke aan Kruger is intussen op sosiale media gedeel. Lede van die publiek is ook genooi om blomme buite die Roelandstraat-brandweerstasie neer te lê ter herinnering aan Kruger en ter ondersteuning aan haar kollegas.

Volgens Volunteer Wildlife Services was die brand op Tafelberg teen Sondagaand in bedwang. ʼn Woordvoerder vir die brandweer- en reddingsdienste in Kaapstad kon nie onmiddellik Maandagoggend vir kommentaar bereik word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Lollie ·

Sy was ń baie dapper vrou. Sterkte aan familie, vriende en kollegas.

Willie ·

Ene van die Hero’s van ons land! Baie strekte aan die familie.. RIP

Velma Venter ·

Sterkte aan haar geliefdes. Dis so hartseer. So ‘n mooi jong vrou.

LouE ·

Ek wonder of ‘n brandweerman nie dalk ‘n man moet wees nie? Die fisiese aard van die werk is dalk te veel vir ‘n vrou.

Vink ·

Ag werklik ??
Sy was n baie dapper vrou. Nege jaar meer gedoen dalk as baie mans…

Mich ·

LouE, Hoe kan jy so onsensitief wees? Maak dit saak of ‘n lewensredder ‘n man of vrou is?
All people are born equal and just a few of them had courage enough to become a fire ‘woman/man’ , fighting fires and saving lives.

Ander Annie ·

So ‘n pragtige jong mens. Innige simpatie aan haar familie. Ek is so jammer oor julle groot hartseer. Sy het die wedloop voltooi as ‘n dapper wenner. Rus in vrede ! My gedagtes en gebede met haar familie en kollegas. Sterkte aan ons dapper brandbestryders.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.