
Die brand in die 23-verdieping gebou in Pixley ka Isaka Semestraat (voorheen Sauerstraat) het in September vanjaar gewoed. (Foto: African News Agency)
Twee brandweermanne wat sowat twee maande gelede in die Johannesburgse sakebuurt tydens die Bank of Lisbon-brand beseer is, is Maandag uiteindelik uit die hospitaal ontslaan.
Die twee brandbestryders is sedert die Johannesburgse brand in die Netcare Milpark-hospitaal behandel terwyl drie van hul kollegas, Mduduzi Ndlovu (40), Simphiwe Moropane (28) en Khathutshelo Muedi (37), tydens die einste brand gesterf het.
Volgens Nana Radebe, woordvoerder van die Johannesburgse nooddienste, sal dié twee brandbestryders steeds gereeld fisioterapie in die hospitaal moet ontvang.
Die brand in die 23-verdieping‑gebou in Pixley ka Isaka Semestraat (voorheen Sauerstraat) het in September vanjaar gewoed. Dit het sowat drie dae geduur om die vlamme te blus. Die gebou het die departement van gesondheid, die departement van menslike nedersettings en die Bank of Lisbon gehuisves.
Altesaam agt brandbestryders is destyds met verskeie beserings in die hospitaal opgeneem waarvan ses van hulle binne ‘n week ontslaan is.
Volgens Radebe sal dié twee brandbestryders wat erger daarvan afgekom het, tyd gegun word om behoorlik te genees voordat hulle weer vir diens aanmeld. Die twee brandbestryders het Maandag buite die hospitaal vertel dat hulle beslis hul krag van hul geliefdes en kollegas by die Johannesburgse nooddienste tydens dié moeilike tyd ontvang het.
Plaaslike owerhede ondersoek steeds die oorsaak van die brand.
Puik diens gelewer.
Spoedige herstel en sterkte vorentoe.
Dis goed om te hoor die 2 het soveel herstel. Baie sterkte en dankie vir puik diens.
En intussen is die gebou in Pretoria wat ook onveilig is nog steeds nie gesluit nie en word die werkers gedwing om in daai Civitas gebou te werk. Aircons werk nie, geen water, vrot matte..lift buite werking, krag wat trip, geen brandblussers