Brandbestryders red 46 000 liter paraffien

(Foto verskaf deur Stad Tshwane)

Brandbestryders in Pretoria kon Maandag ʼn 46 000 liter-tenk vol paraffien en ʼn nabygeleë struktuur red van ʼn brand.

Thabo Charles Mabaso, woordvoerder van Stad Tshwane, het gesê nooddienste is omstreeks 07:00 ontbied. “Berigte is ontvang van ʼn paraffientenkwa wat by ʼn Dynamic Investment-fasiliteit in Donkerhoek, naby die Bronkhorstspruitpad (R104) in die ooste van Pretoria brand.”

ʼn Tenkwa van 59 000 liter het in ligte laaie gestaan toe brandbestryders by die toneel opgedaag het. “Volgens die eienaar was daar slegs 7 000 liter paraffien in die tenkwa. Brandbestryders kon ʼn 46 000 liter tenk vol paraffien en ʼn nabygeleë struktuur van die brand red, en seker maak dat die brand nie na nabygeleë stapels hout en naburige fasiliteite versprei nie,” het Mabaso bygevoeg.

“Twee tenkwaens van onderskeidelik 23 000 liter en 40 000 liter kapasiteit, wat na bewering leeg was, is ook in die brand beskadig. Dromme paraffien (ongeveer 1 000 liter) het ook aan die brand geslaan. ʼn Kantoorblok is heeltemal verwoes in die brand.”

ʼn Bestuurder van ʼn tenkwa was besig om paraffien te laai toe hy glo ʼn ontploffing gehoor het. “Hy het tevergeefs met ʼn brandblusser probeer om die brand te blus. Niemand het beserings opgedoen in die voorval nie.”

Dit het brandbestryders ongeveer drie uur geneem om die brand te blus. Die oorsaak van die ontploffing en die brand word ondersoek.

“Die eienaar beraam die skade op ongeveer R3 miljoen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.