Brandbestryders staal hulle vir brandseisoen

Brandbestryders van die Working on Fire-program. Argieffoto: Verskaf

Brandbestryders van die departement van omgewingsake se Working on Fire-program in Gauteng moes in die afgelope brandseisoen op 444 brande reageer waarin meer as 102 000 ha gebrand het.

Gegewe dié statistiek is die Working on Fire-span tans besig om voor te berei vir die komende brandseisoen wat op 1 Junie begin.

Parapara Makgahlela, woordvoerder van Working on Fire (WOF), het in ʼn verklaring gesê ʼn geelkaart-oefeningassessering sal vandeesmaand gedoen word om die fiksheid van brandbestryders voor die brandseisoen te bepaal. Altesaam 17 van die WOF-spanne in Gauteng sal aan ʼn oefenkamp van 9 tot 15 April deelneem.

“Daar is 358 brandbestryders in die provinsie wat geassesseer moet word. Brandbestryders moet onder meer 2,4 km in ‘n sekere tyd kan hardloop, opstote en optrekke doen en brandmuur-oefeninge doen,” sê Makgahlela.

Bedrywighede by die WoF-basis buite Pretoria. Foto: Phillip Bruwer

Esrom Lebogo, ʼn brandbestryder van die Rust de Winter-span naby Hammanskraal, verduidelik die oefenkamp word gebruik om te bepaal of die brandbestryders gereed is om diens te verrig. “Indien jy dop, kan jy nie uitgaan wanneer daar brand-oproepe tydens die brandseisoen inkom nie,” sê Lebogo.

“Die geelkaart is interessant,” sê hy, “want dit is oorlewing van die fiksste. As jy nie fiks is nie, kan jy nie oorleef nie, want brandbestryders kan nie in die spervuur moeg raak nie.”

Lebogo sê die oefenkampe help brandbestryders om die lang ure te kan werk wat van hulle verwag word en te verhoed dat hul liggame oorverhit wanneer hulle brande bestry. Vir hom is dit ʼn passie om ʼn brandbestryder te wees, omdat hy help om die omgewing te bewaar en te beskerm teen dodelike brande.

Stephen Boyes, algemene bestuurder van WOF in Gauteng, het gesê geelkaart-assesseringskampe help om brandbestryders se gereedheid te bepaal voor die brandseisoen. “Om brandbestryders te assesseer is deel van ons beroepsgesondheid en veiligheidsreëls. Veiligheid van ons brandbestryders is ons eerste prioriteit,” het Boyes gesê.

Hy het bygevoeg hulle verwag dat die komende brandseisoen besig sal wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.