Brande by Kleinmond herinner aan 2019-ramp

Overberg-brand (10 Januarie 2022) (Foto: Rasaad Adams)

Die brande wat sedert die naweek in die berge agter Kleinmond woed het inwoners onwillekeurig laat terugdink aan drie jaar gelede, toe meer as 50 huise by Bettysbaai, net langs Kleinmond, deur brande verwoes is.

“Die brande wat veral snags dramaties sigbaar is, hou inwoners tot laat wakker, want hulle weet; sou die wind van rigting verander en sterk waai, dit ʼn ramp soos in 2019 tot gevolg kan hê,” het ʼn inwoner van Kleinmond aan Maroela Media gesê.

Die brand het teen Maandagmiddag reeds verby die gholflandgoed Arabella versprei, aan albei kante van die R43. Aan die regterkant (seekant) van die R43 het die brand tot by die strandmeer, net verby Rivendell, versprei. Aan die linkerkant van die R43 het die brand verby Karwyderskraalpad versprei. Die omvang van dié brandlyn is nog nie bevestig nie.

Geen strukture is in hierdie stadium op die Arabella-landgoed beskadig nie, maar daar is brandskade aan die voetpaadjies en tuine. Die omliggende veld en eiendom is ook deur die brand geraak, het Maroela Media vroeër berig.

Vlamme het Maandag veral by die woonbuurt Heuningkloof verskeie kere gevaarlik naby aan die huise gekom.

‘n Inwoner gee bottels water aan ‘n brandbestryder. (10 Januarie 2022) (Foto: Rasaad Adams)

Erika Janse van Rensburg, ʼn inwoner van Heuningkloof, sê hulle is Maandag deur die buurtwag gevra om te ontruim, maar is gemaklik om te bly, nadat die helikopters heelwat water kom gooi het. Inwoners het intussen hul tuinslange gebruik en alles natgemaak, sodat verskietende kole nie maklik brande kan veroorsaak nie.

Ander inwoners dra gebottelde water, versnaperinge en selfs oogdruppels aan vir brandbestryders, wat sedert Sondag verwoed spook om die brande te keer.

Helikopters wat bedags aanhoudend water skep en op kritieke plekke gooi, ontstel sommige katte glo erg, wat een inwoner laat inspring het om katte in bokse in haar huis te versorg. Ander inwoners bekommer hulle oor die wild wat in die gebied tussen Kleinmond en Arabella voorkom.

Sommige inwoners se nuuskierigheid kry die oorhand en hulle gaan kyk waar die brand naaste aan die woongebied of Kleinmond-gholfbaan kom, en belemmer sodoende die brandbestryders se bewegings. Oproepe is by herhaling op hulle gedoen om weg te bly van dié gebiede.

Teen laat Maandagmiddag is die pad tussen Kleinmond en die R43 (wat na Hermanus en Botrivier loop) oopgemaak. Motoriste moes ompaaie op ander dele van die R43 ry weens die rook wat sigbaarheid verswak.

“Dit het meegebring dat Kleinmond Maandag grotendeels afgesny was van Hermanus en inwoners nie afsprake daar kon nakom of by die werk kon kom nie,” sê die inwoner van Kleinmond. “Die enigste ander pad na Hermanus is ʼn groot ompad via Gordonsbaai en Grabouw. Mense se lewens word daarmee taamlik omgekrap al is hul eiendom nie tans in gevaar nie.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Lynette ·

Altog die Brande is vreeslik . As ek dit seen of Lee’s dink ek and my dag wat vuur my alles gevat het .
.dit was my ergste dag ooit . So my hart gaan unit na die menses wat so bekommerd is

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.