Brande het Vrystaat-weiding vernietig

Argieffoto (Foto: Alexas_Fotos, Pixabay)

Argieffoto (Foto: Alexas_Fotos, Pixabay)

Die burgerlike organisasie Sanco het ʼn beroep op owerhede gedoen om boere in die Vrystaat by te staan nadat wegholveldbrand weiding in die Vrystaat vernietig het.

“Meeste opkomende boere sukkel reeds onder die verwoestende droogte,” het Jabu Mahlangu, provinsiale woordvoerder vir Sanco, gesê. “As hulle nie binnekort met voer en infrastruktuurherstelwerk gehelp word nie, sal hul vee en ondernemings waarskynlik nie die ramp oorleef nie.”

Mahlangu het gesê ʼn ondersoek is van stapel gestuur om te bepaal hoe die brande ontstaan het wat ongeveer 50% van gemeenskaplike weiveld, wat aan die opkomende boere behoort, vernietig het. “Verskeie plase in Zastron het verliese gely wat tot miljoene rand se skade beloop in die brande wat Maandag ontstaan het.”

Kobus Breytenbach, visepresident van Vrystaat-landbou en boer in die Zastron-omgewing, het gesê die situasie is baie sleg vir die boere, aangesien dit wat van die weiveld oorgebly het, nou vernietig is. “Tot 16 plase het skade gely en dit sluit infrastruktuurskade in,” het Breytenbach gesê.

Louis Alberts, eienaar van die Aasvoëlberg-skool wat tot op die grond afgebrand het, het gesê hy wag nog vir die assessor, maar hy gaan glo miljoene rand benodig om die sentrum te herbou. “Al die chalets vir die kinders en die lapa is vernietig.”

Daar word vermoed dat die brand moontlik by die inisiasieskool in die omgewing ontstaan het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

F v Dyk ·

Dinsdag het ‘n taxi stuk brandende lap uit voertuig gegooi net buite Norvalspont. Nou wonder mens net HOEKOM?

Pieter.v ·

Het die persone wat dit gesien het die die taxi se nommer gevat en dit rapporteur?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.