Brande: Hulp aan boere oor langer tydperk nodig

Tonne voer is reeds na gebiede versprei wat onlangs onder brande deurgeloop het. (Foto: Verskaf)

Die sameroeper van ʼn groep organisasies wat hulp aan boere koördineer wat die afgelope ruk onder verwoestende brande deurgeloop het, sê daar is tot dusver 257 vragte voer vir dié boere ingesamel. Die meeste daarvan is reeds afgelewer.

Naudé Pienaar, adjunkvoorsitter van Agri Noordwes, behartig die koördinering van hulp deur die organisasies Vrystaat Landbou, Agri Noordwes, Agri Noord-Kaap, Mpumalanga Landbou, Gift of the Givers, AfriForum, Caring Daisies, Saai, Boere in Nood, Droogtehulp SA, TLU Noordwes, Droogtehulp met Burre Burger, Senwes en NWK Beperk.

Mense landwyd het reeds skenkings gedoen. (Foto: Verskaf)

Boere in streke soos Hertzogville, Vryburg, Ottosdal, Schweizer-Reneke, Amalia en Warrenton het onder meer groot skade weens die brande gely.

Pienaar sê hulp is reeds landwyd van ander boere, organisasies, farmaseutiese maatskappye en weldoeners ontvang. Bydraes sluit in die voer, dieremedikasie, voerpille en kontantbydraes.

In hierdie stadium is daar aan die onmiddellike behoeftes van mens en dier voldoen.

Voer gaan in die komende weke steeds broodnodig wees. (Foto: Verskaf)

“Die groot krisis kom in die komende weke. Ons is nie uit die moeilikheid nie. Dié week het almal kos.”

Pienaar sê selfs al reën dit dadelik, gaan dit geruime tyd duur voor die veld behoorlik herstel het. Dit is dus belangrik dat die hulp behoorlik gekoördineer en oor ʼn langer tydperk versprei word sodat daar op die lang duur voorraad beskikbaar is.

Hy stel voor dat diegene wat ʼn bydrae wil lewer, ʼn gerespekteerde organisasie kontak en ʼn finansiële skenking maak. Op dié manier kan daar later, wanneer daar weer ʼn behoefte ontstaan, byvoorbeeld voer aangekoop word.

Pienaar sê wanneer massas voer op een slag afgelewer word, is dit moeilik om te hanteer en behoorlik te beheer.

(Foto: Verskaf)

Hy sê ook die meeste mense het in hierdie stadium nie voedselhulp nodig nie. Indien daar wel so ʼn behoefte ontstaan, sal die voorraad eerder in die gebiede waar daar ʼn behoefte is aangekoop word, as ʼn manier om die plaaslike ekonomie ʼn hupstoot te gee.

“Ons wil graag die hulp versprei oor ʼn tydperk. Ons voorsien dat dit oor ʼn lang tyd nodig gaan wees om te help en eerder as wat iets nóú verlore gaan, wil ons weekliks ʼn behoeftebepaling doen.”

Pienaar het ook mense bedank wat reeds hul harte oopgemaak het om geraakte produsente op verskillende maniere te help.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Maggies ·

Ek hoop en bid dat daar sekuriteitswagte met groot vuurwapens staan waar hierdie voer gestoor word.
Net 1 vuurhoutjie kan alles verbrand.
Mense julle moet paraat wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.