Brande in Noord-Kaap ‘ ʼn ramp’

(Foto: Verskaf)

Die wegholveldbrande wat die afgelope naweek in die Kuruman-omgewing in die Noord-Kaap uitgebreek en meer as 100 000 ha se weiveld en drie huise vernietig het, grens aan ʼn ramp.

Só sê Eben Anthonissen, voorsitter van omgewingsake by Agri Noord-Kaap, nadat drie brande Donderdag omstreeks 04:00 in die Kuruman-omgewing uitgebreek het.

Dit is die tweede agtereenvolgende jaar wat boere in hierdie omgewing verwoestende brande moet trotseer. Derduisende hektaar weiding is in September verlede jaar in die omgewing tussen Kuruman en Daniëlskuil vernietig nadat die brande glo gestig is.

“Die gesig van ʼn boer wie se huis, weiding en vee deur vlamme verswelg word, ets ʼn prentjie in jou kop wat jy nooit sal vergeet nie. Hoewel die finansiële skade van só ʼn brand enorm is, is die emosionele litteken wat dit vir die boer veroorsaak, soveel erger.”

Volgens Anthonissen het die drie brande Donderdag tegelykertyd weens weerlig ontstaan.

“Twee van die brande het naby aan mekaar tussen Kuruman en Hotazel ontstaan en is teen die middag heeltemal in bedwang gebring weens goed gekoördineerde samewerking tussen boere, brandbestryders en mynmaatskappye – wat waterkanne verskaf het. Teen Vrydagoggend is die brande heeltemal geblus.”

Na raming het tussen 7 000 en 9 000 ha se weiveld weens dié twee brande afgebrand.

ʼn Derde brand tussen Kuruman en Daniëlskuil het Sondag vir ʼn vierde dag gewoed en boere, munisipale brandbestrydingspanne, vrywilligers en organisasies het teen Maandagoggend nog onverpoos gespook om die vlamme te blus.

Die terrein in hierdie gebied – wat uit berge, klowe en baie bosse bestaan – bemoeilik brandbestrydingspogings omdat die groot hoeveelheid gras ʼn hoër brandgevaar inhou. Daarom is dit genoodsaak om lugsteun in te span.

“Kuruman-Oos Brandbeskermingsvereniging het Vrydag twee vliegtuie as lugsteun na die gebied gestuur, maar die weersomstandighede was van so ʼn aard dat die lugsteun onsuksesvol was. Die vliegtuie is Sondag weer ingespan.”

(Foto: Verskaf)

Volgens Willie Aucamp, DA-LP en kiesafdelingshoof vir die Kalahari-kiesafdeling, het die weermag Sondag sy Atlas Oryx-helikopter gestuur om met die brandbestryding te help. Die weermag se Lohatla-opleidingsgebied val in die brandgebied.

Aucamp en Anthonissen het aan Maroela Media gesê dat brandbestrydingspanne van die Gamagara-munisipaliteit en die John Taolo Gaetsewe-distriksmunisipaliteit deurgaans bystand gebied het. Volgens Aucamp was daar egter geen bystand van die Ga‑Segonyana-munisipaliteit nie.

Die DA het ’n dringende beroep op die provinsiale regering gedoen om nog lugsteun te ontplooi.

Aucamp het reeds met die LUR vir landbou, Mase Manopole, gepraat en gevra vir die verskaffing van lugbystand in die bestryding van die brande en om te help met die dringende voorsiening van voer aan diere.

Sodra die brand onder beheer is, gaan Aucamp ook die premier, dr. Zamani Saul, versoek om ’n provinsiale ramp ten opsigte van die brandgebied te verklaar.

Rampspoedige gevolge

Volgens Aucamp is die verlammende verwoesting wat die boere twee agtereenvolgende jare moet beleef, ’n uiterste las op hul skouers.

“Dit sal van kardinale belang wees om te verseker dat hulpbronne onmiddellik gemobiliseer word om diegene wat skade opgedoen het, te ondersteun en om voer aan die oorlewende vee te verskaf.”

Dit is nog nie duidelik hoeveel vee in die brand omgekom het nie. Een plaashuis en twee werkershuise het afgebrand. Geen beserings is aangemeld nie.

Volgens Anthonissen is die weeromstandighede in die omgewing van só ʼn aard dat dit ideale toestande vir wegholveldbrande skep – met sterk winde, hoë temperature en lae humiditeit.

“Boere moet nou meer as ooit op hul hoede moet wees vir veldbrande.”

Maroela Media het reeds berig die weerdiens waarsku oor ʼn groot moontlikheid vir brande in die Noord-Kaap, die Vrystaat, Limpopo en Noordwes die volgende paar dae.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

SjN ·

Tragies, sterkte aan die betrokke boere, hoop daar sal uitkoms wees, iets klink nie reg nie, hoekom begin die brande oor n naweek en vernaam as die wind waai?

Nettie ·

Baie, baie sterkte aan almal. En dankie vir elkeen wat uitgespring en gehelp het.

Hoe skandalig dat een munisipaliteit geen bystand verskaf het nie. Mens het nie woorde om die walging te beskryf nie.

Nico ·

Kwaadwillige gedrag, om die wit boere te vernietig sodat hulle kan oorvat.

Theuns ·

Ek wil net weet waar die betrokke weerlig, maw weer was? Het niks van dit gesien. Wat ek wel gesien het , is dat daar by Leër Geveg Skool kanonskote gedurende die nag was en daar was ook ‘n rooi skynsel teen die horison. Ek was hele paar jaar by LGS en met elke oefening was daar brande, met bevoegde personeel EN voertuie om die brande te bestry. Was hierdie brande nie ook deel van so oefening?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.