Brande in Vrystaat verwoes derduisende hektaar

Teen Dinsdagmiddag was meeste van die brande reeds geblus (Foto: Verskaf)

Minstens 50 000 ha grond en weiding is vernietig nadat wegholveldbrande Maandag in die Gariepdistrik in die Vrystaat verwoesting gesaai het.

Die brand het Maandagmiddag naby Koffiefontein en Petrusburg uitgebreek en vandaar, weens ’n sterk noordwestewind van 70 km/h, versprei. Die brand het na onder meer Jacobsdal, Fauresmith en Jagersfontein versprei.

Brandbestryders en boere het dwarsdeur die nag en Dinsdag omtrent die hele dag gespook om die veldbrande in bedwang te bring. Teen omstreeks 16:40 was die brande grotendeels onder beheer.

Johan Breytenbach, algemene bestuurder van die Vrystaatse sambreelbrandvereniging (FSUFPA), sê die brand tussen Koffiefontein en Petrusburg het ʼn oppervlakte van meer as 62 km beslaan en was meer as 50 km breed.

Die brande het van die Gariepdistrik tot in die Mangaungdistrik, naby Bloemfontein, versprei.

“Ons het sover kon bepaal dat meer as 50 000 ha grond verwoes is,” het Breytenbach gesê.

Boere het verliese van vee en wild aangemeld asook van strukture wat deur die brand verswelg is.

‘n Veldbrand het van Koffiefontein tot Jagersfontein versprei (Foto: Verskaf)

“Die totale omvang van die skade moet egter nog bepaal word.”

Jack Armour, kommersiële bestuurder van die Vrystaat Landbou (VL), het bevestig afsonderlike veldbrande het Maandagmiddag ook by Edenburg ontstaan en tot aan die ander kant van die N1 naby Tierpoort gebrand. Van dié brande het teen Dinsdagmiddag steeds van Edenburg tot in Tierpoort op die N1 gewoed.

Viaan Viljoen, ʼn boer van die Tierpoort-omgewing wie se plaas ook deur die brande geraak is, het Dinsdag aan Maroela Media gesê hulle het inligting ontvang dat ʼn kragpaal omgewaai het en een van die veldbrande veroorsaak het.

Die oorsake van die brande moet egter nog bevestig word.

Working on Fire se spanne besig om brande in Edenburg-omgewing te bestry (Foto: Working on Fire, Twitter)

Armand Cloete, VF Plus-raadslid in die Vrystaat, sê die Letsemeng-plaaslike munisipaliteit, wat onder meer Koffiefontein, Petrusburg en Jacobsdal bedien, beskik nie oor die nodige brandbestrydingstoerusting om te help om die brande te blus nie. Boere en plaaslike grondeienaars was dus aan hul eie lot oorgelaat om die brande te blus.

Volgens Cloete het die munisipaliteit net een brandweerwa tot sy beskikking.

“Uit gesprekke met die owerhede gedurende die brande was dit duidelik dat brandbestrydingspersoneel ook nie gereed was om die brande te blus nie,” sê Cloete.

Volgens Cloete waarsku die VF Plus die departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) in die provinsie vir maande reeds teen die gebrekkige brandbestrydingshulpbronne.

“Die departement het wel ná die uitbreek van die brande spanne na die brandgeteisterde gebiede gestuur. Dit is egter te min te laat. Talle boere se veld is verwoes en diere het doodgebrand.

“Die VF Plus sal in die Vrystaatse wetgewer vra watter munisipaliteite in die Vrystaat nie voldoen aan rampbestuurswetgewing nie en wat gedoen word om te verseker dat Vrystaatse munisipaliteite inwoners teen brande beskerm.”

Armour sê enigiemand wat die boere wat deur die brande geraak is, wil help, kan die VL se webwerf besoek.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kobus ·

Word voorbrande nog gemaak? Ek kan nie dink boere is onverskillig teenoor dit nie. Almal weet dat brande gestig word maar daar moet tog ‘n manier wees om plase teen totale vernietiging te beskerm.

Di ·

Dis nou die gevolge van ‘n regering wat niks in stand hou nie. Waar het jy gesien daar is slegs een brandweerwa om hierdie distrik te bedien, pateties!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.